< Teen Saterdagmiddag was smeulende dekriet en kromgetrekte gewels teen ’n wolklose hemel die enigste oorblyfsels van ’n vernietigde gesinshuis in Middelburg se bo-dorp. Foto: ELSABÉ PIENAAR


’n GESIN van Middelburg is al hul besittings kwyt nadat hul grasdakwoning verlede Donderdag deur ’n verwoestende brand in puin gelê is.

Die grasdak het vlamgevat nadat ’n veldbrand in ’n aangrensende oop stuk grond nie onder beheer gebring kon word deur inwoners nie.

Omstreeks 15:49 Donderdagmiddag het ’n boodskap op ’n plaaslike misdaad-Whatsappgroep dringend versoek dat die gemeenskap hulp gaan verleen om meubels uit Nelio Benedito se huis te dra.

Die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) se brandweer is ontbied, maar is verhinder om spoedig op te daag omdat hulle toe reeds werksaam was op Grootfontein Landboukollege om ’n groot veldbrand onder beheer te bring.

JT Terblanche, een van die eerste vrywilligers op die toneel, is van mening dat die voortslepende watertekort in Middelburg se bo-dorp grootliks verantwoordelik is vir die Benedito-gesin se verlies.

“As daar enigsins water in die huishoudelike krane beskikbaar was, sou mens die veldbrand dalk met gewone tuinslange onder beheer kon bring, of die grasdak deeglik natspuit om te verhoed dat dit vlamvat. Daar was egter, soos gewoonlik die afgelope tyd, net lug in die krane, en ons moes hulpeloos toekyk hoe vlamme die grasdak in minder as ’n uur totaal verswelg,” vertel Terblanche, wat ook ’n vrywilliger was kort ná die ontploffing in die Rolfe-fabriek in 2013, toe ’n aantal werknemers noodlottig beseer is.

Sowel Terblanche as Benedito was vol lof vir IYM se brandweerpersoneel. “Hulle het regtig alles gedoen wat hulle kon. Maar die toerusting waarmee hulle hul taak moet verrig, laat veel te wense oor. Enigeen op die toneel kon sien dat die brandslange broodnodige druk verloor as gevolg van die gehawende toestand van die pyp.

“Ek hoop van harte dat munisipale owerhede vanjaar dringende aandag sal gee hieraan, want onder huidige omstandighede word die brandweerpersoneel se taak onnodig bemoeilik. Skade aan eiendom word gely omdat CHDM nie die watersisteem van die dorp onderhou nie, en ook omdat IYM brandweer met substandaardtoerusting moet klaarkom. Ek sidder as ek dink wat sal gebeur as daar regtig ’n groot krisis kom – dit lyk nie vir my of daar behoorlike noodplanne in plek is om ons uitgebreide gemeenskap te beskerm nie.”

Volgens Benedito gaan dit onder omstan-dighede goed met sy gesin. “Dis tog net aardse goed. Ek glo die Here sal, soos nog altyd, vir ons sorg. My vrou is tereg hartseer oor heelwat sentimentele dinge wat in die slag gebly het, maar ons is nie moedeloos nie, en baie dankbaar dat niemand beseer is nie. Dit het my asem wegge-slaan om te sien hoe mense net inspring en help, onder gevaarlike omstandighede. Vrywilligers het hul lewens gewaag om ons troeteldiere uit die huis te red – ek kry eintlik hoendervleis, want as ons gemeenskap altyd só kan saamstaan, sal ons voorwaar baie kan vermag!”

Die oorsaak van die veldbrand kon nie sonder twyfel vasgestel word nie. Ooggetuies het opgemerk dat ’n rondloper-persoon kort na die ontstaan van die brand die veld verlaat het, maar luidens die amptelike polisieverslag word geen kwaadwillige brandstigting vermoed nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article