Vervolg vanaf bl.1

VOLGENS Malan word dorpswater tans na Midros herlei omdat Midros se boorgat en reservoir onvoldoende is om in dié woongebied se behoeftes te voorsien. ’n Inwoner van Middelburg het IYM gevra waarom talle nuwe huise oral opskiet ten spyte van die infrastruktuur wat reeds nie kan voorsien in waterbehoeftes nie, maar is nie geantwoord nie.

Mariaan Stannard, skoolhoof van die Hoërskool Middelburg, het gevra wat gedoen kan word om die skool te help. “Ons leerlinge moet in onhi- giëniese toestande skoolgaan. Toilette kan nie spoel nie en kinders kan nie hande was nie,” het sy gesê. Die skool se jaarlikse atletiekbyeenkoms sou die volgende dag plaasvind.

“Dit is inderdaad die huidige toedrag van sake by ál die skole in Middelburg,” het Bene opgemerk. IYM raadslid Sibongile Masawe het voorgestel dat ’n versoek gerig word aan CHDM om watertenks op te rig by al die skole, maar dit sou steeds nie gevul kon word sonder voldoende watertoevoer nie.

Ná bewering het CHDM reeds verlede jaar R10 miljoen begroot vir “droogtehulp” aan Middelburg. Die tender is glo reeds aan ’n kontrakteur toegeken om sommige boorgate, onder meer Zonnebloem en Matjies-kloof, dieper te boor en twee nuwe boorgate vir Midros te sink. Volgens Bene het CHDM die versekering gegee dat die werk binne die volgende twee weke sal begin. “Ons gaan al hierdie probleme aan CHDM voorlê. Hulle moet sê hoe hulle hierdie kwessies gaan aanspreek. Ons wil die beloofde R10 miljoen op wit en swart sien, en verwag deursigtig-heid van die aangestelde kontrakteur.” Bene het die vergadering verdaag met die belofte om binne twee weke ’n opvolgvergadering te reël.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article