Evelyne Olifant van Nieu-Bethesda het 20 jaar gelede met haar restaurant begin en in 2007 met ’n sopkombuis. Foto: ELSABÉ PIENAAR


“GAAN kuier vir antie Evelyne,” druk ’n vriend in Graaff-Reinet my máánde gelede op die hart, en borduur voort oor die werk wat dié besonderse vrou in die afgesonderde gemeenskappie van Nieu-Bethesda doen.

Toe ’n werkopdrag my onlangs die kronkelende grondpad soontoe laat aanpak, onthou ek sy woorde, en vertrek ekstra vroeg, sodat ek gou eers by haar kan aanry.

Met die stilhouslag voor haar huisrestaurantjie in Kloofstraat teen Pienaarshoogte, word ek begroet met ’n vrolike gehandeklap-en-sing.

Dis amper middagete, en onder die afdakkie staan ’n stuk of 30 kinders en wag vir opskeptyd. ’n Tie-nerseun staan nader om die spinasie agterin my bakkie af te laai, en antie Evelyne Olifant glimlag van oor tot oor toe ek beduie watter vriend my na haar verwys het. “Sal jy vir ons die seën vra?” verstaan sy terstond, en beduie my daarná om brood uit te deel wat die kinders kan huis toe neem ná hulle klaar geëet en opgewas het.

“Ek hoor niks!” maan sy, toe ’n kleintjie met ’n stofgesiggie sy bord kos en brood aanvat.

“Dankie Antie, dankie Ouma,” kom dit sag-skaam, en ek dink aan die pienk stokroos wat trots op aandag staan voor antie Evelyne se eetplek. Dis duidelik dat hier daagliks goeie maniere, beginsels en geloof sáám met innerlike versterking opgeskep word.

“Ek is eintlik ’n plaasmens,” vertel antie Evelyne. “En plaasmense kén van planne maak. Só het ek toe 20 jaar gelede met my restaurant begin – eers net met brood, gemmerbier, en geloof,” lag sy.

Vandag besoek selfs oorsese toeriste dié eetplekkie in die Karoo, want intussen het antie Evelyne se spyskaart uitgebrei, en bedien hulle heerlike ontbyte en middagetes. “Egte Karoo-kos, soos dit hier hoort,” verstrek antie Evelyne.

In 2007 het sy met die sopkombuis begin. “Ons gee daagliks twee etes vir meestal so 60 kinders op ’n slag, maar ons wys niemand weg nie. Grootmense kom eet ook soms saam, maar hulle wéét: dis ’n iets-vir-iets – jy kom skil, of help skoonmaak, dan kan jy saameet.”

Ná ete drink ons tee in antie Eve-lyne se netjiese sitkamertjie, en sy vertel hoe sy eers tot bekering gekom het nadat albei haar seuns in een jaar oorlede is, jare gelede.

“Dié dat ek nie ’n ander oordeel nie,” erken sy ruiterlik. “Ons vat soms die kinders met ’n bussie Graaff-Reinet toe, dan gaan bedien hulle die mense in die gevangenis en by ouetehuise. Te veel van ons jongetjies raak die pad byster bloot omdat daar nooit tuis ’n dik stem was nie – ’n pa, jy weet,” verduidelik sy.

“Baie gevangenes skryf vir my, en vra ek moet vir hulle bid. In Middelburg ook – ons wil juis graag vir hulle ook gaan kuier.”

Ek moet gaan werk, sluk my tee en groet haastig, maar antie Evelyne druk my eers vas teen haar en bid vurig vir my. Eers toe ek daar wegry, begin ek vermoed dat daar op Nieu-Bethesda steeds ’n engel die water roer.

. Antie Evelyne Olifant se sopkombuis funksioneer danksy skenkings uit die breë gemeenskap. Om betrokke te raak, of indien jy die restaurantjie wil besoek, skakel haar by 083 873 5526.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article