TERWYL ’n petisie in Cradock en Middelburg sirkuleer om water- en riooldienste terug aan die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) oorgedra te kry, het die situasie oor lekkende waterpype, gebrek aan dienslewering en rioolstorting nou kookpunt bereik.

Probleme wat sedert Julie 2014 – toe Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) water- en riooldienste van IYM weggeneem het – ontstaan het, word nou op die spits gedryf met groot dele van Cradock, asook Michausdal en Hillside, wat dae lank sukkel met watervoor- siening.

Stories van geysers wat uitbrand en wasmasjiene wat nie die onderbreking van water kan hanteer nie, is algemeen.

Die gevangenis op Cradock, waar 462 seuns en jong mans tussen die ouderdomme van 15 en 25 jaar aangehou word, is een van die plekke wat verskeie kere vir dae lank sonder water- toevoer sit.

Volgens Thandokazi Marwanqa, kommunikasiekoördineerder van die departement korrektiewe dienste, is daar tussen 26 en 30 gevang-enes in ’n sel.

Sover vasgestel kan word is daar slegs twee toilette per sel wat somtyds tot vier of vyf dae sonder water is.

Volgens Marwanqa doen hulle hul bes om die gevangenes so menslik as moontlik te hanteer, maar is die waterprobleem buite hul beheer.

Daar is glo tenks op die perseel, maar na verneem word is daar nie drukpompe om die water na die gevangenis te herlei nie.

Cradock se sportterrein, wat nog altyd ’n groot bate vir die dorp was, se B-rugbyveld en netbalbaan was tot onlangs vir etlike weke onder ’n dik laag rioolstorting bedek wat dele van die kompleks onbruikbaar gemaak het.

Rioolstortings in die Groot Visrivier vind op ’n daaglikse basis plaas en beland op landerye en moontlik groentetuine onderkant die dorp. Melkboere moet ook alternatiewe watervoor-siening vir hul koeie kry.

Beloftes van miljoene rande waarmee Cradock en Middelburg se water en riooldienste opgradeer gaan word, is onlangs deur Robbie Venske van CHDM gemaak. Tenders moet egter nog gevra word, waarna dit maande sal neem voor die werk voltooi kan word.

Teen druktyd het Thobeka Maqamela, die woordvoerder van CHDM, nie op enige navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article