EEN van Graaff-Reinet se bekendste inwoners, D.S. “Patrys” Smith en sy gade, Helen, het dié dorp op 21 Januarie vaarwel geroep toe hulle na Port Elizabeth verhuis het.
Die Smith-egpaar het hulle in November 1996 in Graaff-Reinet gevestig ná ’n lang en suksesvolle termyn in verskeie oorsese ambassades.
Patrys was ’n verteenwoordiger in onder meer Australië, die VSA, Paraguay en Switserland. As diensdoende in die Suid-Afrikaanse diplomatieke diens, was hy gesetel in Canberra, Australië en Chicago in die VSA. Hy was tydens sy loopbaan tweede in bevel van die ambassade en daarna hoof van die konsulaat in Sydney.
Smith was ook die konsulgeneraal in Chicago en ambassadeur in Paraguay, en was ook by bilaterale lessenaars van die diplomatieke korps.
Ná sy aftrede het hy en Helen hulle in Graaff-Reinet gevestig waar hy, onder meer, betrokke was by die Graaff-Reinet-reklamevereniging en Erfenisstigting.
Helen was net so aktief en was onder meer betrokke by die teatervereniging (John Rupert Klein Teater), ’n leserskring en ’n studie-groep.




