CRADOCK-polisie het weer ’n groot slag teen die dwelmoorlog onder die plaaslike gemeenskap geslaan toe hulle op bykans ’n halfmiljoen rand se dwelms beslag gelê het.
Volgens kapt. Lariane Jonker, ’n polisiewoordvoerder, is ’n huis in die Lingelihle-woonbuurt deursoek en is beslag op 58kg los dagga en meer as 4 000 mandrax-tablette gelê.
Jonker het gesê die waarde van die dwelms word op R494 320 geskat. ’n Ondersoek om die eienaar vas te trek duur voort.
Brigadier Madoda Zamkana, hoof van die polisie op die dorp, het gesê hulle sal hulle poging om dwelms in die plaaslike gemeenskap uit te roei, voortsit en hulle beste doen om ’n veilige en dwelmvrye gemeenskap te skep.


