DIE Suid-Afrikaanse Polisiediens in Graaff-Reinet het verlede week met ’n reeks uitreikprogramme na plaaslike skole begin.
In samewerking met die Graaff-Reinet Gemeenskapspolisiëringsforum, die departement van gemeenskapsontwikkeling, en die departement van onderwys, het die po-lisie Asherville Sekondêre Skool besoek.
Tydens die bewusmakingsveldtog is die gevare van dwelm- en drankmisbruik met leerders bespreek, asook die toename in tienerswangerskappe, skoolboelies, geweld en die probleme wat deur bendes veroorsaak word.
Volgens kapt. Bradley Rawlinson, poli-siewoordvoerder van Graaff-Reinet, is leerders ook oor die onderskeie ondersteuningsgroepe ingelig wat deur die departement van onderwys bedryf word om leerders met spesiale behoeftes ten opsigte van bogenoemde kwessies van hulp te wees.



