IN Hofmeyrdistrik het die landbouers verskeie buurtwagstelsels gestig en hierdie manne en vroue ry om die beurt snags roetes om veediefstal en ander ongerymdhede te probeer bekamp en in die kiem te smoor.
Daar word ook gebruik gemaak van kamerastelsels en groepe kommunikeer onderling met mekaar om die situasie te monitor.
Daar is op die aand van 30 Januarie afgespreek om verskeie patrollies te ry en kaptein Bennie Kitching van die Veediefstal-eenheid van Middelburg, was ook die betrokke aand in die omgewing.
Geen verdagte verkeer is op die onderskeie roetes opgemerk nie, en eindelik het Kitching aanbe-veel dat vorige wegsteekplekke besoek word om seker te maak dat geen gesteelde kleinvee iewers versteek word nie.
Met die patrollie se aankoms by die Reservoir bokant Eluxolweni, het die groep afgekom op 37 merino-skape.
Dit was ’n grusame gesig, aan-gesien 15 van die skape oral rondgelê het nadat hul geslag is, en die velle, koppe en binnegoed was nog op die toneel.
’n Verdere 22 is lewend gevind tussen die rotse wat aan die kant van die reservoir geleë is.
Persone wat op die toneel was, deel mee dat dit duidelik was dat die slagproses nog aan die gang was toe die slagters heel moontlik die ligte van die dorp se kant af sien aankom het. Hul het van die toneel gevlug.
By nadere ondersoek is die skape uitgeken as die eiendom van Kobus Marais van Vrolikskraal.
Veediefstal en verminking van vee deur honde raak ’n al hoe groter probleem in die omgewing, en die inwoners se paraatheid word tot die uiterste getoets om hierdie probleme te probeer hokslaan.



