DIE Hoërskool Cradock gaan later vanjaar in April die gasheer van die eerste SA Plattelandse-skole leierskap-indaba wees.
Die nuwe leerlingraad van CHS het met die idee van dié avontuurnaweek vir gr. 7- en gr. 12- leerlingleiers vorendag gekom. Dit sal vanaf 12 tot 14 April in Cradock plaasvind.
“Ons wil idees uitruil, lekker kuier, hoor wat werk by ander skole en leer by mekaar,” meen hulle.
“Die nuwe skoolhoof, Dirk Cronjé, het gelukkig dadelik ingekoop in die idee en ons ouers en die hele gemeenskap staan bankvas agter ons!”
Die departement van onderwys, by name die Inxuba Yethemba CMC se Life Skills Projects onderskryf die Indaba heelhartig en het dit aangeneem as een van hul projekte.
“Een-en-twintigste-eeuse onderrig onderskryf die idees van kreatiwiteit, kritiese denke, samewerking en kommunikasie, daarom is dit ’n wonderlike idee dat leerlingleiers saamkom om brûe te bou.”
Die avontuurnaweek, wat om die Visrivier gesentreer is, sal in die vorm van ’n “amazing race” plaasvind.
Leerders moet hulle egter nie hierdeur laat afskrik nie. Hulle hoef nie te kan swem of te roei om deel te neem nie.
Spanne van afgevaardigdes sal aan verskeie aktiwiteite deelneem, wat ’n wye reeks bevoegdheidstoetse insluit. Die leerders sal ook tussendeur ’n verskeidenheid “Scattered Chats” bywoon deur sprekers wat hulle lewenservaring en passies met hulle gaan deel.
Die Vrydagmiddag, ná registrasie, sal die deelnemers hulle eerste “Scattered Chat” geniet voor ’n spitbraai deur die CHS Alumni en die aankondiging van die spanne.
Die Saterdag se spanitems gaan vlotvaart, abseil, gholf, jukskei, debatvoering, wegkruipertjie en meer insluit.
’n Gala-geleentheid sal later die aand plaasvind, waar eet, dans en fotonemery in die fotohokkie vir opwinding sal sorg.
Hulle sal dan Sondag die naweek afsluit met die laaste “Scattered Chats”, gelukstrekkings en die prysuitdeling.
Dit sal hopelik slegs die begin van ’n reistog vir die leerlingleiers wees.
Die avontuurnaweek is oop vir gr. 7- en gr. 12-leerlingleiers.
Elke skool mag deur twee leerlingleiers verteenwoordig word. Die koste is R650 per leerder.
Inskrywings sluit op 27 Maart om 17:00.
Besprekings vir die avontuurnaweek kan met Melina by 082 092 4770 of Maryna by 082 520 8909 gemaak word.




