DIE voortslepende droogte in die Oos-Kaap het nie net reeds talle boerderye op hulle knieë gedwing nie, maar bedreig ook verskeie dorpe in die Karoo wat nie meer in inwoners se daaglikse behoeftes kan voorsien nie.

Die gemeenskap van Graaff-Reinet staar tans rampspoed in die gesig, met die Nqwebadam se watervlak wat op Dinsdag, 5 Februarie slegs 1.6% gemeet het.

Die dam, wat tussen 1921 en 1925 gebou is, het volgens die departement van water en sanitasie ’n totale kapasiteit van 44.8 miljoen kubieke meter. Op die huidige vlak van 1.6% beteken dit dat daar tans ’n skrale 716 800 kubieke meter water in die dam oor is.

Streng waterbeperkings is ’n geruime tyd reeds van toepassing, en die Beyers Naudé-munisipaliteit het inwoners gemaan om hierby te hou.

’n Restauranteienaar van die dorp, wat verkies om anoniem wou bly, is egter van mening dat die waterbeperkings nie streng genoeg is nie.

“Ek is heeltemal ten gunste van die beperkings wat bepaal dat tuine en grasperke nie met tuinslange en sproeiers gekoppel aan die munisipale sisteem natgelei mag word nie. Wat my bekommer is dat gastehuise, hotelle en skole steeds hulle swembaddens mag opvul met munisipale water. Met die dam wat nou bykans leeg is, sou ek dink dat elke druppel water moontlik bespaar moet bly, en swembadwater is nie lewensnoodsaaklik nie.”

Onder ideale omstandighede word die dam, met ’n totale opvangsgebied van nagenoeg 3 668 km², gevoed deur verskillende waterbronne uit Nieu-Bethesda, die Gatsrivier, Pienaarsrivier en Sondagsrivier. Daar is ook inloop vanaf die noordekant van die Valleiberge en die oostekant van die berge by Driekoppen. Op vol kapasiteit beslaan die Nqwebadam net meer as 1 000ha, maar dit het laas in 2012 gebeur, toe die dam vir amper ses maande lank oorgeloop het.

Dit sal ’n aansienlike neerslag reën in die opvangsgebied van die dam verg om te verhoed dat dit binnekort heeltemal leeg sal wees. Wanneer dit gebeur, sal Graaff-Reinet afhanklik wees van boorgatwater, wat ongelukkig in dié streek baie brak is. Verskeie inwoners met wie Mid-Karoo Express gepraat het, is besorg oor die huidige boorgate se vermoë om in die totale waterbehoefte van die dorp te voorsien.

By navraag het die munisipaliteit egter aangedui dat hulle tans nie enige probleme voorsien nie, en daar word nie tans beoog om addisionele boorgate te sink vir Graaff-Reinet nie.

Volgens Wilca Smith, woordvoerder van die munisipaliteit, is die herstel van waterlekkasies hoog op die munisipaliteit se prioriteitslys.

“Inwoners kan ons van groot hulp wees deur lekkasies onverwyld aan te meld, en ons onderneem om so spoedig moontlik daaraan aandag te skenk.”

Die oproepsentrum van Beyers Naudé-munisipaliteit kan bereik word deur 049 807 5800/1/2/3 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article