NUUS dat die 12 biblioteke in die Beyers Naudé-munisipale distrik weens ’n tekort aan finansies binnekort hul deure sou moes sluit, het soos ’n skokgolf deur dié gemeenskappe getrek.

Biblioteekdienste is veronderstel om ge-heel en al deur die provinsiale departement gedra te word, terwyl die plaaslike regering slegs verantwoordelik is vir die voorsiening van munisipale geboue waarin biblioteke gehuisves word.

Die ware toedrag van sake is egter dat die bedryfskoste van die 12 biblioteke nagenoeg R4.4 miljoen jaarliks beloop, terwyl die departement slegs R2.3 miljoen aan Beyers Naudé oordra. Dié bedrag moes reeds ses maande gelede ontvang gewees het.

“Die munisipaliteit kan eenvoudig nie hierdie verlies onbepaald dra nie,” het Samantha Graham, voorsitter van die korporatiewe dienste portefeuljekomitee gesê.

“Dit is waarom ons gedwing was om tot die hartseer besluit te kom om die biblioteekdienste vanaf 4 Februarie op te skort. Al ontvang ons die beloofde departementele fondse, sal die voortbestaan van die biblioteke steeds in die volgende finansiële jaar deur die munisipaliteit in heroorweging geneem moet word.”

Volgens Graham vervul die biblioteke ’n kritieke rol in elk van die 12 plattelandse gemeenskappe waar hulle geleë is.

“Kinders gaan daarheen vir hulp met skooltake, doen huiswerk daar en vind selfs daar ’n plek van vrede terwyl huislike omstandighede soms moeilik is. Ons ervaar ongelukkig dat die departement nie werklik omgee vir hierdie kritieke gemeenskaps- diens nie. Nuwe boeke word nooit ontvang nie, en daar is geen funksionerende internetdienste nie.”

Graham vertel dat daar selfs biblioteekpersoneel is wat van hul private selfoondata aanwend om kinders met navorsing te help.

“Dit sal ’n kwade dag wees as hierdie 12 gemeenskappe hierdie broodnodige basiese diens nie meer kan benut nie,” is Graham van mening.

Mxolisi Matato, hoof van die departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur, het Maandagoggend in ’n onderhoud op SAFM onderneem om die beloofde fondse teen Dinsdagoggend aan Beyers Naudé-munisipaliteit oor te dra. Graham het bevestig dat dié geld wel Dinsdag oorbetaal is.

Die biblioteke wat hierdeur geraak word, is Graaff-Reinet, uMasizakhe, Kroonvale, Adendorp, Jansenville, Klipplaat, Rietbron, Aberdeen, Steytlerville, Simonshoek en twee biblioteke in Willowmore.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article