ONGURE weersomstandighede die afgelope paar dae het derdui-sende rande se skade aan CCTV-kameras op Grootfontein Landboukollege buite Middelburg veroorsaak.
Erge wind en reën het Sondag-aand, 10 Februarie die PTZ-kamer op die koppie aan die westekant van Grootfontein se ingang, uitmekaar geruk. Die sekuriteitspersoneel was in staat om al die dele te herwin, maar die kamera is erg beskadig.
Maandag, 11 Februarie omstreeks 15:30 het ’n donker wolk oor Grootfontein en Middelburg gehang waarna ’n skielike rukwind en ’n reuse donderstorm oor die dorp en Grootfontein uitgesak het.
Sterk wind wat saam met die reën gepaard gegaan het, het bome langs die teerpad op Grootfontein uit die grond geruk en aan flarde gewaai. Verskeie bome is ontwortel en het die pad vir motoriste versper. Nóg ’n sekuriteitskamera is tydens hierdie storm uitmekaar gewaai en beskadig.
Die bloekombome wat die pad versper het, is reeds meer as 100 jaar oud en is tussen 1903 en 1910 deur die militêre troepe wat op Grootfontein – wat toe ’n Britse vredesmagkamp was – geplant. Die laning bloekombome is slegs in 1954 getop om te keer dat hulle te swaar raak bo, maar verder is hulle nie weer teruggesnoei nie.
Volgens Elana Kitching, kurator van die museum en nasionale ge-denkwaardighede op Grootfontein, mag hierdie bome volgens die Erfenishulpbronwet 35 van 1999, nie afgekap word nie.



