IN haar volhoubare organiese groentetuin maak Karen McEwan van Fairfield Foods in die Middelburg-distrik gebruik van sekere permakultuur konsepte.
Sy spit glad nie die grond om nie en voed die grond driemaandeliks deur ’n toevoeging van kompos of ’n bo-laag van natuurlike materiaal.
By Fairfield Foods word daar geen insekdoders, chemikalieë of enige materiaal wat nie organies is, gebruik nie. Hierdeur poog McEwan dus om in harmonie met die natuur, al sy insekte en voëls ’n koswoud te groei waarmee sy haar gesin kan voed.
McEwan bied van tyd tot tyd ’n verskeidenheid Tuin en Kombuis kombinasie-klasse aan waartydens sy individue of groepe met ’n informele oggend in die tuin bederf met interessante inligting, gevolg deur koek en tee.
Belangstellendes kan gerus ’n paar datums in hulle dagboeke merk.
- Op 22 Februarie bied Fairfield Foods ’n informele tuinoggend aan. Daar gaan gesels word oor wat tans in die tuin gedoen kan word, die droog en verpak van saad, asook belangrike feite oor grond en kompos. Die koste beloop R120 per persoon en besprekings is noodsaaklik.
- Op 6 April word daar beplan om saad uit te ruil tydens die “seed swop”-oggend wat slegs R50 per persoon kos.
- Op 16 Maart is “Veggie Garden Open Day, Seed Swop and Barter of Home Grown Produce”. Tydens die lekker informele oggend, vanaf 08:00 tot 12:00, gaan daar sommer net in die tuin ontspan en gekuier word. Organiese groentesaad kan uitgeruil of gekoop word en plaaslike Karoo-produsente wat natuurlike produkte beskikbaar het, word aangemoedig om hulle produkte te kom vertoon.
Pannell Kingwill sal ook ’n praatjie en demonstrasie oor groentetuinbesproeiing lewer. Toegang is slegs R20 per persoon en besprekings is noodsaaklik.
- Op 17 en 18 Mei sal ’n tuinpraatjie (garden walk and talk) vanaf 08:00 tot 12:00 handel oor die maak van kompos, voorbereiding van grond tydens die wintermaande, asook hoe om betyds vir someraanplanting gereed te maak. Toegang is R120 per persoon en besprekings is noodsaaklik.
McEwan sal ook te sien wees by die Karoo Slow Food Festival by die Wheatlands-sportklub buite Graaff-Reinet vanaf 21 tot 24 Maart, asook by die Karoo Food Festival in Cradock vanaf 26 tot 28 April.
Vir navrae en besprekings, kontak Karen McEwan by fairfieldfoods@gmail.com of 082 397 8698 of volg haar op Facebook by Fairfield Foods.
Sy het onlangs met Mid-Karoo Express se besoek ingestem om een van haar resepte met lesers te deel.
Hierdie tyd van die jaar word vars eiervrug, murgpampoentjie, botterskorsie en kersie-tamaties, asook vars kruie en roketblare geoes.
Wat dan beter as ’n heerlike geroosterde groente-slaai wat as ’n maaltyd vir ’n koning kan dien?
Geroosterde groenteslaai met vars kruie
Genoeg vir vier mense
Bestanddele
1 groot eiervrug – in skywe gesny
1 groot botterskorsie – geskil, in skywe gesny
6 murgpampoentjies – in lengte deurgesny
200g heel kersie tamaties
6 klein uie – geskil en in die helfte deurgesny
1 knoffel huise – geskil en gekneus
15ml droë origanum
Sout en peper na smaak
15ml vars tiemieblaartjies
Olyfolie
Roosmaryntakkie
100ml balsamiese asyn
Halwe hand pietersielie en koljander
Bossie roketblare
50ml geroosterde sesamsade
Vars sagte mozzarella skywe
Metode
- Sprinkel sout oor die eiervrug en laat dit vir 10 minute rus. Dreineer en rangskik saam met die res van die groente in ’n oondbak.
- Meng die olie, sout, peper en kruie saam en sprinkel bo-oor die groente en voeg die roosmaryntakkie bo-op.
- Rooster by 160° C vir 20-30 minute.
- Maak seker om ’n ogie te hou oor hoe ver jou groente gerooster is en draai dit versigtig om halfpad deur die bakproses.
- Laat dit effe afkoel en rangskik op ’n plat slaaibak.
- Meng nou die balsamiese asyn in die oondpan waarin die groente gerooster is met die oorblywende olie (voeg nog olyfolie by indien nodig) en giet in ’n aparte houer.
- Rangskik vars koljander, pietersielie en roketblare met die groente.
- Sprinkel met geroosterde sesamsade, en laastens sit mozerella bo-op.
- Bedien met die balsamiese en olie-aftreksel.
- Vir diegene wat ietsie meer om die lyf soek kan dit ook bedien word met geroosterde hoender of lamsboud.




