Willem-Schalk Pienaar van Rooipoort plaas in die Murraysburg-distrik verkoop sy “Vryloop”-eiers by die Boer-e-Goete Plaasmark.Foto:VERSKAF


IN pas met die wêreldwye tendens het boeremarkte in Suid-Afrika ook sedert die draai van die eeu in gewildheid toegeneem.

Uit die aard van dié soort handelsinstelling is die boeremark ’n kritieke komponent in die heropbou van plaaslike voedsel- en tuisnywerheidsekonomieë.

Ná die wegholsukses van die eerste Boer-e-Goete Plaasmark wat in Desember in Graaff-Reinet gehou is, is daar besluit om dié mark nou ’n gereelde instelling op die dorp te maak.

Organiseerder Vicky Pienaar het vertel, “Desember se mark het ons stoutste verwagtinge oortref, en ons het ’n hele week langer aangehou met die mark as wat aanvanklik beplan is.”

Die eerste plaasmark vir 2019 sal vanaf 1 tot 4 Maart om 09:00 by Karoo Trade in Kerkstraat gehou word. Besoekers kan uitsien na ’n verskeidenheid plaasvars produkte, asook kwaliteit handgemaakte dekor en geskenke, natuurlike velsorgprodukte, babageskenkies en -speelgoed, damesmodes en bykomstighede.

Liz Breytenbach, administrateur van die gewilde Facebookblad Graaff-Reinet Swap, Sell and Advertise met meer as 16 000 lede, is ook ’n uitstaller by die Boer-e-Goete Plaasmark.

“Graaff-Reinet het hope talentvolle mense, en ek is opgewonde dat daar uiteindelik ’n mark is waar hierdie mense se afsetgebied kan uitbrei,” het Liz gesê.

Daar word beplan om die mark maandeliks te hou en addisionele markte sal beplan word om met feesgeleenthede saam te val.

“Sodoende kan ons boere en uitstallers meer blootstelling kry, en kry kliënte van elders ook die geleentheid om ons mark te beleef,” het Vicky verduidelik.

Daar sal ook ’n sentrale betaalpunt wees, asook kaartfasiliteite.

Om meer uit te vind oor die Boer-e-Goete Plaasmark, stuur ’n e-pos na vicky@rooipoort.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article