DIE gemeenskap van die woonbuurt Bezuidenhoutville sowel as die ganse gemeenskap van Adelaide en omringende gebiede is in rou gedompel oor een van dié kontrei se mees geliefde verpleegsters en moeder van vele wat onlangs Huistoe geroep is.
Louisa Christian, alombekend as Ouma Wiesie, is onlangs ná ’n lang stryd teen limfkanker in haar 72ste jaar oorlede.
Sy is op 9 Februarie onder groot belangstelling op Adelaide ter ruste gelê
Personeel van die Adelaide-hospitaal sowel as die gemeenskap van Adelaide het haar weens haar sagte geaardheid en die wyse waarop sy met deernis na haar pasiënte omgesien het, as die Florence Nightingale van dié plattelandse dorpie beskryf.
By haar begrafnisdiens wat deur mense van heinde en ver bygewoon is, het vele hooggeplaastes in haar gemeenskap haar geloof vir haar onbaatsugtige en uitmuntende diens as verpleegster op dié dorp.
Christian is op 9 Augustus 1946 op Adelaide gebore. Sy het haar primêre skoolopleiding by die Adelaide NG-skool ontvang en later aan die Holy Rosary kloosterskool op Cradock gematrikuleer. Haar verpleeg-opleiding het sy by die Somerset-hospitaal naby Kaapstad ontvang. Met haar terugkeer het sy vir twee jaar as onderwyseres by Adelaide Primêr diens gedoen voordat sy in 1979 by die hospitaal op Adelaide diens aanvaar het.
Haar dogter, Celestine Christian, het aan Mid-Karoo Express vertel dat Louisa in 2009 met limfkanker gediagnoseer is maar dat dit haar nie ondergekry het nie. Hiervoor het sy twee jaar lank behandeling by ’n hospitaal in Oos-Londen ontvang. In Desember 2011 het sy op 65-jarige ouderdom ná 32 jaar se getroue diens by Adelaide-hospitaal afgetree.
Christian het haar ma beskryf as iemand wat vir die gemeenskap en haar medemens gelewe het.
“My ma het vele kinders wat nie haar eie was nie met liefde grootgemaak en selfs ná haar aftrede hier in die woonbuurt voortgegaan met haar verplegingswerk. Sy was gewild en bemin onder die ganse gemeenskap en was vir meer as tien jaar ’n kanker-survivor,” het Christian gesê.



