Melanie du Bois (Felicity) en Daliel Dollie, sjef, wat die aand so suksesvol gemaak het met sy wonderlike eetgoed. Foto: verskaf

Die bekende motiveringspreker, Vanessa Goosen, het die afgelope naweek ’n gala-geleentheid in Michausdal se Sonskynsaal aangebied.

Die geliefde sepiester, Melanie du Bois, beter bekend as Felicity van 7de Laan en tans as Ronel in Arendsvlei, was eregas en geleent-heidspreker.

Du Bois, wat die ma van ’n jong dogtertjie is, sê sy is baie kieskeurig oor die rolle wat sy deesdae aanvaar omdat haar kind altyd eerste kom in haar lewe.

Sy geniet haar rol in Arendsvlei egter baie en sy sal dit oorweeg as sy ooit teruggeroep word na die Laan. Goosen het by die geleent-heid twee baie belangrike projekte vir opheffing van die dorp se gemeenskap bekendgestel.

Die eerste is ’n kompetisie om Mnr. en Mej. Rolmodel 2019 aan te wys. Tydens die kompetisie sal jong mense aangewys word wat in staat sal wees om as rolmodelle in die gemeenskap op te tree, en skole te besoek om ander jong mense bewus te maak dat hulle bo hul omstandighede kan uitstyg. Hulle sal ook oor afknouery in die skool gesels en skoliere waarsku teen die gevare wat dwelms inhou.

In die kompetisie, waarvoor inskrywings nou al aanvaar word, sal daar pryse wees wat gewen kan word.

Goosen se tweede projek wat sy bekend gestel het, is “Vroue Bou Vroue Op” waarmee sy vroue wil aanmoedig om met haar oor hul probleme te gesels en sodoende antwoorde te probeer kry.

“Vroue is so baie keer skaam om oor sekere probleme te gesels, maar as ons dit in ’n een-op-een-geselsie kan uitlig, kan dit makliker opgelos word,” het sy gesê.

Haar groot mikpunt is om vroue selfvertroue te gee sodat hulle nie na alternatiewe soos drank of dwelms hoef te gryp nie.

“Wanneer jy ’n vrou opbou, bou jy ’n nasie,” het Goosen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article