DIE Verenigde Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet het Sondag as deel van die gemeente se 200-bestaansjaarvieringe met dank teruggedink aan die baanbrekerswerk van die Graaff-Reynetsche Zendelings Genootschap.
Emerituspredikant Gawie Basson het die volgende interessanthede oor dié organisasie te vertelle gehad:
Op 1 Augustus 1819 is die Graaff-Reynetsche Zendelings Genootschap onder leiding van dr. Abraham Faure van die Nederduits Gerefor-meerde gemeente Graaff-Reinet gestig. Graaff-Reinet was toe pas 33 jaar oud, die NG Gemeente net 27 jaar, en die dorp was ’n blote gehuggie op die verre voorpos van die land.
Die eerste sendeling was eerwaarde Albert van Lingen, ’n Nederlander. Hy het nie net geestelike werk onder die slawe en Khoisan-mense gedoen nie, maar ook ’n skool begin om mense te leer lees. Die skool was aanvanklik in ’n kamer van sy woonhuis, maar toe die leerlingtal toeneem het die kerkgebou (ingewy in 1821) ook as skoolgebou gedien.
Die leraar het met sy eie hande skoolbanke gemaak. Hierdie beskeie begin het gelei tot die totstandkoming van die latere Lingcom NG Sendingkerkskool in Grovestraat.
Eerwaarde Van Lingen moes dikwels lang afstande te voet aflê om kerkdienste te hou.
As mens in gedagte hou dat ’n reisiger in 1812 in sy dagboek aangeteken het hoe inwoners saans leeus in die Sondagsrivier kon hoor brul, kry jy ’n idee van die omgewing waarin die vroeë Graaff-Reinetters geleef het, en die uitdagings en gevare wat dié toegewyde bedienaar van die Woord moes trotseer om sy roeping te vervul.
Eerwaarde Van Lingen is opgevolg deur eerwaardes Andreas en Corporaal.
Hulle dienstye was baie kort, maar beide het baie gedoen om die skool en Sondagskool verder uit te brei.
Die vierde sendeling, eerwaarde Auke Compaan, het diep spore getrap in die sendinggemeenskap van Graaff-Reinet. Hy was ’n gebore Frieslander, en ’n opgeleide en ervare seeman wat later Suid-Afrika sy tuiste gemaak het. Aanvanklik was hy ’n onderwyser en later boekhouer in die Aberdeen-distrik.
In 1865 het Compaan, op uitnodiging van ds. Andrew Murray Sr, sendeling geword in Graaff-Reinet en dit gebly tot met sy uittrede in 1914. Hy was stigter van die plaaslike tak van die IOTT (Independent Order of True Templars), ’n afskaffersvereniging wat drankmisbruik en dronkenskap beveg het.
Volgens ds. Basson, self ’n voormalige predikant van die VGK gemeente in Graaff-Reinet, was hierdie vier vroeë voorgangers baanbrekers en rolmodelle, nie net in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap van Graaff-Reinet.
“Ek het gedink aan die teks in Hebreërs 13:7 wat ons herinner om te ‘Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het.”
“Saam met die eerste sendelinge was daar die talle kerkraadslede, verenigingsleiers en lidmate wat in eie kring en in eie reg navolgens-waardige voorgangers vir die gemeente was gedurende die eerste 62 jaar van sy bestaan,” sê ds. Basson. “Ons gedenk hulle en ook al die voorgangers in die gemeente oor die afgelope twee eeue.”


