PIENK Bome vir Pauline beplan om 2019 ’n jaar van teruggee te maak om aan die inwoners van Somerset-Oos dankie te sê vir al die jare van ondersteuning vir hierdie verdienstelike saak.
Hulle het 2019 op ’n gesellige wyse met ’n werkswinkel by Multiplant Kwekery se restaurant afgeskop. Die spesiale gaste was Hannes en Carol-Ann van Jaarsveld, oud-inwoners van Somerset-Oos en tans van Montego Pet Nutrition op Graaff-Reinet.
Die Pienk Bome vir Pauline kankerbewusmakingsveldtog is juis deur Carol-Ann begin nadat haar ma aan kanker oorlede is.
’n Positiewe Hannes het vertel van die moeilike pad wat hy moes stap met polisistiese niere en kanker. Sy ma het ook polisistiese niere gehad. Hy het ’n lang pad daarmee gestap totdat hy net 12% nierfunksie oorgehad het en ’n nuwe nier moes kry. Ongelukkig is prostaatkanker intussen by hom gediagnoseer en moes die prostaat eers verwyder word aangesien hy nie in aanmerking sou kom vir ’n nier indien hy nie eers twee jaar kankervry is nie.
In Oktober 2014 kry hulle die goeie nuus dat sy vrou ’n perfekte skenker sal kan wees. En so begin die lang en senutergende gewag met verskeie toetse op albei.
Toestemming van die Department van Gesondheid is verkry omdat sy nie bloedfamilie is nie en daar ’n magdom vereistes is waaraan sy moes voldoen voordat sy haar nier aan haar man kon skenk.
Die nieroorplanting is op 20 Augustus 2015 gedoen en vier dae later was Carol-Ann gesond genoeg om uit die hospitaal ontslaan te word.
Agt dae ná die oorplanting is Hannes ontslaan. Vir die eerste keer in ’n lang tyd is hy nie meer heeltyd moeg nie en kan hy ’n bord boerekos, skaapboud en groentes eet sonder om hom oor sy gesondheid te bekommer.
Volgens Hannes is daar duisende mense wat op skenkers wag en hy het mense aangemoedig om as orgaanskenkers te registreer.
Maryke Schoonbee, sekretaresse van die plaaslike tak van Pienk Bome het gesê dit was ’n wonderlike voorreg om hierdie ongelooflike storie te hoor.
“Mens kon God se liefde en Sy ‘magic’ by die geleentheid aanvoel – in Hannes se positiwiteit sowel as die liefdevolle manier waarop Carol-Ann na haar man kyk,” het sy gesê.
Die “dress-code” was “In hierdie klere wil ek nie weer gesien word nie!” en dit het die geleentheid opgekikker en gesorg vir lekker lag.
Marie Fick was die eerste pryswenner met ’n geel en wit crimpelene kraamrokkie, wat uit die 60s dateer. Tweede prys het gegaan aan Johanna Snyman, uitgevat in ’n ligpienk rok wat uit die vroeë 1900s dateer.
Die oggend is afgesluit met ’n middagete en die gaste is huis toe met baie stof tot nadenke.


