DONDERDAG, 28 Februarie het luide musiek, kindergille en skeidsregterfluitjies oor die terrein van die Primêre Skool Karel Theron in Middelburg weergalm.
Opgedollie in die prettigste uitrustings het leerders en ouers aan die jaarlikse Karel Theron 7’s-pretdag deelgeneem.
By die snoepie en kostent is die heerlikste lekkernye, pasteitjies, burgers en nog meer te koop aangebied.
Tussen al die aktiwiteite moes die jongspan maar vinnig eet om weer betyds by hulle volgende item aan te meld.
Selfs die kleine gr. R-leerders het ook aan die vermaak deelge-neem en daar is aan almal se vermoëns gedink toe die verskillende items op die aktiwiteitslys geplaas is.
Vir die senior leerders was daar rugby, toutrek en netbal, terwyl die kleinspan aan meer informele items deelgeneem het om van al hul energie ontslae te raak.
Die Pippies, gr. 7-meisies, was die algehele wenners van die dag, terwyl die Funky Farmers in gr. 4 as die bes geklede span aangewys is.




