WATER- en elektrisiteitsprobleme in Graaff-Reinet het mekaar die afgelope week steeds afgewissel.

Groot dele van die dorp was teen verlede Donderdag steeds sonder water omdat kragonderbrekings verhoed het dat reservoirs gevul kon word.

Selfs nadat kragtoevoer herstel is, het water vele huishoudings steeds nie bereik nie, en Vrydagmiddag laat het Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit (BNLM) op hul Facebookblad te kenne gegee dat ’n groot hoeveelheid klippe deur vandale in een van die reservoirs gegooi is.

Dié reservoir voorsien water aan Kroonvale, Santaville, Selfbou, Umasizakhe en Bergendal. Munisipale werkers het vroeg Saterdag die laaste klippe verwyder, waarna gehoop is dat die reservoir weer spoedig sou opvul en funksioneer.

Kommer heers oor sekuriteit en toegangbeheer na die reservoir. Volgens Wilca Smith, woordvoerder van BNLM, is die palissadeheining om die reservoir ’n geruimte tyd gelede afgesteel, maar die naweek het die munisipaliteit wel die deksels ter sprake toegesweis.

Maandag het blou begin vir vele huishoudings wat steeds dae lank met droë krane gesit het, dié keer vanweë ’n kragonderbreking na die Damkamp boorgate.

Dié probleem het watertoevoer na die dorp, Umasizakhe, Mandela Park, die industriële gebied, Kollegeweg, Donkerhoek, Sunnyside, Reinet Park en Cypress Grove ingekort.

’n Gebreekte kabel agter Lokasiekop is eindelik herstel nadat munisipale werkers met moeite toerusting te voet na die herstelplek moes dra.

Dinsdag was verskeie inwoners rooi onder die kraag toe bloedwurms uit kouewaterkrane verskyn het.

Hoewel die bloedwurm, ’n larwe van die muggie Chironomidae, skadeloos is, kan groot infestasies daarvan ’n aanduiding wees van swak waterkwaliteit. Bloedwurms het ’n hoë hemoglobieninhoud, wat hulle in staat stel om te oorleef in suurstofarm vlakke, soos aangetref in besoedelde waterbronne.

“Ek is in kennis gestel dat, omdat die reservoir heeltemaal leeg was, van die slyk ensovoorts geroer sou word toe dit weer volgemaak is. Dit is die rede vir die sand en ander onsuiwerhede. Die water is ontsmet, maar nie noodwendig filtreer nie. Dit behoort deur te was met gebruik,” het raadslid Samantha Graham gesê.

Volgens woordvoerder Wilca Smith het die munisipaliteit wel ondersoek ingestel na die wurmprobleem by van die adresse waar dit aangemeld is, maar hulle het nie nog wurms aangetref nie.

“Daar is wel besluit om die sisteem te spoel, en ons versoek inwoners om verdere probleme steeds onder die munisipaliteit se aandag te bring,” het Smith gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article