VUKUSEBENZE-skuiling het sowat dertien jaar gelede sy deure geopen. Dit was die breinkind van wyle Gus Botha. Maar eers is die projek as ’n sopkombuis bestuur waar daar op drie dae per week sop bedien is aan “straatkinders” en later werkloses.
Met die hulp en donasies van die kerke in die dorp is hierdie projek uitgebrei tot waar daar tans ’n gekookte maaltyd vir omtrent 70 tot 80 mense daagliks voorberei word.
Die bestuur is ook opreg dankbaar teenoor individue, besighede, Cradock Spar, Shoprite en vir voedselskenkings waarsonder die skuiling nie sal kan funksioneer nie.
Die bydraes van ons distrikte se plaasgemeenskap kan nie gering geskat word nie en die bestuur sal ewig dankbaar bly. Spesiale vermelding gaan aan donateurs wat anoniem wil bly. Skenkings soos voorraad en kontant word gereeld afgelewer. Dit alles help om die doelwitte te bereik.
Die skuiling bied ook oornag slaapge-riewe aan besoekers teen R90 per aand en groepe teen R60 elk.
’n Miskonsepsie heers onder inwoners wat graag reggestel moet word. Hulp word met graagte aangebied aan “verbygangers” in die dorp. Daar word tans gewerk aan ’n gedeelte om sulkes vir een aand gratis te laat oorslaap om te help om die term “Skuiling” gestand te doen. Dit dien ook genoem te word dat ons geen staatshulp ontvang nie.
Ander dienste wat gelewer word, sluit in die was en stryk van wasgoed, vars gebakte brood, slegs beperk tot Vrydae.
Gemeenskapslede se bydrae in die verlede word hoog op prys gestel en ’n voorgesette ondersteuning word hoogs waardeer.
Tjokka Booysen



