Christiaan Kapp en Enrico Harding doen ’n demonstrasie met ’n brandblusser. Foto:DEONETTE HAGGARD


VIER Penkoppe en Drawwertjies, een Verkenner en vyf offisiere van Somerset-Oos, het onlangs die Oos-Kaap Penkop en Drawwertjie Spesdag by die Van Stadenskloof Voortrekkerterrein bygewoon.

Lizan Burger was die sameroeper van die dag waar 101 Voortrekkertjies en 37 volwassenes bymekaar gekom het. Nianke Kapp en Chad Lombard het die Spoorkennis-spesialisasie gedoen. Hulle het geleer hoe om die spoorsnytekens wat die Voortrekkers gebruik, uit te ken en aan te wend om ’n spoor te volg tot by ’n eindpunt.

Paraatheid in die moderne lewe is deur Christiaan Kapp en Enrico Harding aangebied.

Die Voortrekkertjies moes onder meer leer hoe om verskillende tipes brandblussers te gebruik en wat om te doen as daar ’n bomontploffing is.

Molestering is ook aangespreek en hier het Hanelise en Helgard du Plessis leiding geneem.

Hermann Burger het leiding geneem met die aanbieding van die dierekennis-spesialisasie vir die Graad 4 jeuglede.

Hulle het ook die voorreg gehad om ’n slang-inligtingsessie aangebied deur Mark Marshall van ‘Sandula Conservation’ by te woon. Voorts het Lizan Burger leiding geneem met die Graad 5-groep wat van groepspele geleer het.

Nadia Kapp is deur Tenell Harding bygestaan om toe te sien dat die verversings betyds uitgedeel is.

Heerlike sjokoladekoek, gebak deur Blue Crane Bakery, is in die oggend bedien en appelysies in die middag. Alzena Mulder het gesorg dat die 160 pizzas, wat Roman’s Pizza in Sunridge Village (Port Elizabeth) gemaak het, heerlik warm by die hardwerkende en honger monde uitkom.

Lizan Burger sê dat dit vir die offisiere ’n groot voorreg is om met die jeug te kan werk en dat hulle dankbaar is dat die Hemelse Vader Sy hand oor hul bedrywighede hou.

Diegene wat belangstel om by die Voortrekkers aan te sluit of ’n kommando in hul eie omgewing te stig, kan Lizan Burger skakel by 084 036 0209 of diklizzy@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article