SAGMOEDIG, geduldig, belangstellend en ’n hart van goud – dít is maar net ’n paar van die woorde waarmee dr. Christo Leeuwner, afgetrede mediese praktisyn van Middelburg en sy vrou, Anita, beskryf kan word.
Ná 42 jaar op dié Karoo-dorp, het dit nou tyd geword om hul wortels te lig en see toe te skuif.
Hulle sê dit is met swaar harte en uiterste heimwee dat hulle ’n gemeenskap van vriende, wat so heg soos familie geword het, ná 42 jaar vaarwel moet roep.
Toe hulle in 1977 Middelburg toe getrek het, het die geleentheid om as jong geneesheer die gemeenskap te kan bedien, as ’n baie groot uitdaging voor die Leeuwners se familiedeur gelê.
Hierdie was ’n uitdaging wat hulle nie kon wag om aan te pak nie!
Wat aanvanklik ’n vyf-jaar-plan was, het ’n 42-jaar-lewenspad geword waartydens hulle diep in die Karoogrond ingewortel het.
Jaar ná jaar het hulle net meer ingeburger en lief geraak vir die Middelburg-gemeenskap.
Op 17 Maart 1977 het hul verbintenis met Middelburg begin en presies 42 jaar later op 17 Maart vanjaar gaan hulle verhuis.
Hul nuwe tuiste is Gordonsbaai waar hul reeds die afgelope paar jaar vakansie hou.
“Oor die jare heen het ons siek mense gesond gedokter, babas gevang, en om die beurt weer gesien hoe hulle babas weer voor ons grootword. Ons het saam gehuil, saam gelag, en saam gegroei. Ons het saam gekuier en hegte vriendskappe gesmee. Vandag kyk ons terug en ons weet; ons sou dit geensins anders wou gehad het nie.
“Alles van die swierige Polisie- en Grootfontein funksies, tot broodbak in die bakkery, was elke herinnering voorwaar iets om oor huistoe te skryf.
“Hiermee wil ons graag vir ieder en elk wat ’n pad deur ons harte gestap het, bedank vir jare lange lojaliteit en ondersteuning teenoor ons.
“Dankie vir julle goedhartigheid, hegte vriendskappe en liefde. Dankie vir alles wat julle vir ons kinders, Isabel, Andrea en klein Christo beteken het.
“Hulle praat steeds met groot verwondering van hul kinderjare in die pragtige Middelburg in die Karoo,” het die Leeuwners gesê.
“Ons kan dit nie beter stel as Randall Wicomb, dat Middelburg soos ’n kind in jou hart kom kruip en soos ’n laatlamkind in jou hart kom kruip nie.”
“’n Mens is nooit te oud om ’n nuwe lewenshoofstuk te begin nie, en ons sien uit om hierdie deel van ons afgetrede lewe met ywer aan te pak. En wie weet? Ons harte hunker om dalk eindelik op te eindig in die skone Laeveld, Mpumalanga,” gesels hy verder.
Gelukkig is Middelburg en die Karoo diep in sy hart gewortel en sal hy verseker nog in die toekoms op Middelburg aanklop wanneer hul hier verby reis na hul kinders in Mpumalanga.



