Satansbos hou ’n groot bedreiging in vir volhoubare landbou in die Oos-Kaap. foto: ELSABÉ PIENAAR


DIE toenemende voorkoms van Solanum Elaeagnifolium, beter bekend as satansbos, hou ’n groot bedreiging in vir volhoubare landbou in die Oos-Kaap.

Volgens Justin du Toit, ’n navorser by Grootfontein Landboukollege, word dit reeds in groot areas in en rondom Graaff-Reinet, Middelburg, Jansenville en Steynsburg aangetref. Nie net kan dié plant die waarde van besproeiingslande verminder nie, maar dit kan ook ’n negatiewe impak op die vrugbaarheid van landbougrond hê omdat die uitgespreide wortelstelsels van die plante binne ’n kort termyn sulke digte stande vorm dat landbougewasse nie met sukses verbou kan word nie.

Omdat diere dit nie graag vreet nie, kompe-teer dit ook toenemend met natuurlike weiveld, wat vir skaapboere in die Karoo rampspoedige gevolge kan inhou.

Volgens Du Toit word satansbospopulasies in dorpe in die Karoo feitlik deurgaans toegelaat om ongestoord te vermeerder omdat munisipaliteite nie onkruidbeheerplanne toepas nie.

Satansbos het ’n uitgebreide wortelstelsel met wortelstokke wat so diep as 4 meter kan groei. “Meganiese beheer van die plant, veral skoffel, is nie baie suksesvol nie, omdat versteuring van die grond meer dikwels lei tot die ontstaan van nuwe plante. Slegs 1mm wortel is nodig om ’n nuwe plant te genereer. Ek stel voor dat nuwe groei voordurend bo die grond afgesny word alvorens die plant saad skiet,” stel Du Toit voor.

Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê dat daar gedurig gepoog word om die probleem onder die aandag van die departement van landbou te bring, maar dat daar weens ’n gebrek aan fondse nie tans enige hulp aan boere verleen word nie, en dat die druk op boere om self duur spuitprogramme vol te hou, onmoontlik raak in die reeds droogte-geteisterede gebied.

“Dan is daar natuurlik al die reservate en nasionale parke in die Oos-Kaap waar die departement ook geen onkruidbeheer toepas op indringers soos satansbos nie,” het Stern gesê.

Biobeheer met ’n kewer wat uit die Amerikas ingevoer is en wat daar as natuurlike vyand van die satansbos optree, was slegs gedeeltelik suksesvol in die Karoo, veral nadat blou-ape ontdek het dat dié kewer ’n sappige delikatesse is wat geniet kan word sodra navorsers die area verlaat waar kewers vrygelaat is.

Volgens Stuart Southey, voorsitter van die Middelburg Boere-unie, doen sommige boere alles moontlik om satansbos uit te roei, terwyl ander nie juis moeite doen nie. “Waar daar seisoenale riviere deur plase loop, kan saad tydens reëntye stroom-af versprei vanaf plase waar die eienaars nie beheer toepas nie.”

Volgens Southey kan die plant wel met volgehoue pogings ’n knou toegedien word, en sê dat ’n spuitprogram wat in Australië met sukses toegepas word, hom weer hoop gegee het.

Wat sê die wet? Satansbos is ’n verklaarde kategorie 1-onkruid kragtens die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983, en grondgebruikers op wie se grond satansbos aangetref word, is wetlik verplig om aggressiewe onkruidbeheer toe te pas. Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit bepaal dat indringerspesies skriftelik ver-klaar moet word op eiendom wat verkoop word.

Satansbos, wat inheems aan die halfwoestynagtige Amerikas is, is die eerste keer amptelik in 1952 in SA aangeteken, maar het vermoedelik reeds tydens die Anglo-Boereoorlog saam met ’n besending perde en -voer uit Argentinië in die Kaap aangekom, vanwaar dit die binneland in na Graaff-Reinet versend is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article