DIE fase 4-beurtkrag wat sedert die afgelope naweek deur Eskom toegepas is, is ’n gevolg van verskeie faktore wat die dienste van Suid-Afrika se energieverskaffer tans aan bande lê.
’n Dieseltekort by PetroSA, verouderde kragstasies wat nie meer die druk kan hanteer nie, steenkool van swak gehalte en skade aan Mosambiekse kragtoevoerlyne wat deur sikloon Idai aangerig is, het Suid-Afrika die afgelope week behoorlik in die donker gehul.
Verbruikersvertroue in Eskom is laer as ooit, terwyl gerugte van ’n moontlike algehele onderbreking talle Suid-Afrikaners tans inspireer om noodvoorrade op te bou.
Plaaslike ekonomie gaan ook gebukkend onder verliese wat deur beurtkrag teweeggebring word, terwyl talle besighede gedwing word om gedurende besigheidsure deure sluit.
Dit is ook nie net plaaslike sakelui wat die effek van beurtkrag aan die sak voel nie. Verskeie groot kettingwinkels in Caledonstraat in Graaff-Reinet beskik nie oor kragopwekkers nie, en het geen keuse het as om toe te maak tydens beurtkrag nie.
Volgens Frannie Roux, bestuurder by Rolf Laboratories in Middelburg, word ’n kragopwekker by een van die fabrieke tydens beurtkrag gebruik sodat werk nie stilstaan nie. “Ons kan darem aangaan, maar natuurlik is die bedryfskoste van ’n kragopwekker per uur heelwat duurder as gewone elektrisiteit,” het Roux gesê.
“Gelukkig is nie ál ons bedrywighede van elektrisiteit afhanklik nie, so ons pas maar ure aan, en ons werknemers help ons baie deur soms op alternatiewe ure te kom werk sodat die fabriek steeds optimaal kan funksioneer. Dit verg natuurlik aanpassing, veral vir werkende moeders wat kinders soggens moet versorg of by skole besorg.”
Dorpe in die Mid-Karoo streek ondervind grootskaalse watertekorte danksy beurtkrag. Chris Hank distriksmunisipaliteit het hul verbruikers gewaarsku dat konstante watertekorte verwag kan word vanweë beurtkrag. Inwoners word aangeraai om waar moontlik ekstra drinkwater vir ’n noodgeval te berg.
Ook die Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit (BNLM) het te kenne gegee dat verskeie woonbuurte gereeld min of geen water het nie omdat kragonderbrekings daartoe lei dat boorgatpompe nie daaglikse optimale hoeveelhede water kan uitpomp nie.
“Ons watertrokke volg nie ’n spesifieke skedule nie, maar doen heeltyd die rondtes, en ons versoek inwoners om watertekorte te rapporteer,” het Wilca Smith, woordvoerder van BNLM gesê.
Vir verdere inligting of navrae, kontak 049 807 5800/ 5801/ 5802/ 5803.
HUMAN RIGHTS DAY: 21 MARCH
