Een van twee waterlekkasies is by die dorpskliniek deur die Middelburg Forum herstel nadat die Chris Hani distriksmunisipaliteit asook die Inxuba Yethemba munisipaliteit te kenne gegee het dat hulle nie die fondse het om dit te doen nie. Die pyp was heeltemal verbrokkel. foto:ELSABÉ PIENAAR


TWEE ernstige waterlekkasies by die dorpskliniek in Middelburg is vandeesweek deur die Middelburg Forum herstel nadat Chris Hani distriks-munisipaliteit geen materiaal óf loodgieters beskikbaar gehad het om die probleem op te los nie.

Ook Inxuba Yethemba munisipaliteit, aan wie die gebou behoort, het nie fondse beskikbaar gehad om herstelmateriaal mee aan te koop nie, terwyl liters en liters water later ’n voor gevorm het waar dit weggestroom het.

Die Middelburg Forum het plaaslike loodgieter John Powell betaal om die werk te verrig.

“Dit bewys net weer eens dat ons as gemeenskap nou ’n alternatief sal móét bewerkstellig, want geeneen van die munisipaliteite sien om na ons belange nie,” het voorsitter van die forum, Engela Kruger, gesê.

Die Forum het vandeesweek ’n skrywe aan inwoners van Middelburg begin uitstuur om die totstandkoming van ’n waterkrisisfonds aan te kondig.

“Die doel van die fonds is om geld en arbeid beskikbaar te hê om vinnig en doeltreffend op te tree wanneer die dorp se pompe onklaar raak of pype stukkend is. Die dienste in hierdie verband wat deur die Chris Hani Distriksmunisipaliteit gelewer moet word, is óf gebrekkig óf word glad nie gelewer nie. Die inwoners moet dus hul eie planne maak om die water- en sanitasiedienste op aanvaarbare standaarde te kry. Dit is in hierdie verband dat ons as die Middelburg Belastingbetalersforum die inwoners wil help en sodoende waterkrisisse wat in die toe-koms mag gebeur aan te spreek,” het Kruger gesê.

Die noodsaaklikheid van ’n Middelburg waterkrisisfonds volg op Chris Hani distriksmunisipaliteit se versuim om ’n dispuut oor watermeters (wat reeds in 2014 deur inwoners verklaar is) op te los.

Die destydse Concerned Communities Forum wat uit verteenwoordigers van verskeie plaaslike munisipaliteite vanoor die CHDM-gebied bestaan het en alle moontlike pogings aangewend het om met CHDM te onderhandel oor verskeie water-en sanitasieaangeleenthede, het geen terugvoer ontvang nie.

Volgens die brief aan Middelburgers word voorgestel dat elke huishouding of besigheid in Middelburg, Midros, Lusaka, KwaNonzame en Rosmead ’n bedrag van R130 maandeliks moet bydra tot die krisisfonds.

“Vanweë die dispuut oor foutiewe watermeters is dit nou al bykans vyf jaar dat niemand betaal vir water nie,” sê Kruger.

“Ons móét pro-aktief optree om ons mooi dorp se waterbronne te beskerm en onderhou, en dit is imperatief dat elke huishouding en besigheid besef: water is lewe! Ons vertrou dat inwoners sal saamstem dat ons die totstandkoming van ’n waterkrisisfonds nie langer kan uitstel nie,” het Kruger aan Mid-Karoo Express gesê.

Vir meer inligting kan inwoners die Middelburg Forum in kantoor-ure bel by 049 842 3552.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article