Jason Kok en Abongile Tikini. Foto: WILNA DE KLERK


TWEE baie opgewonde jong knapies van die Pionier skool vir blindes op Worcester, kuier vir die vakansie op Cradock.

Mid-Karoo Express het die opgewonde Abongile Tikini (8) en Jason Kok (8) verlede Vrydag-oggend aan huis van Ruby van Heerden in Setaria- straat ontmoet waar hulle haar orrel, trekklavier en mondfluitjie voluit getoets het.

Jason is in graad 1 en besig om braille te leer lees en skryf. Hy is een van ’n tweeling en is heeltemaal blind.

Abongile het gedeeltelike sig en sal moontlik vanjaar nog ’n bril kan kry. Sy ouma, Pennie Davids, van Heerden se huis-hulp, is sy voog.

Die twee seuntjies het met ’n bus van Worcester na Port Elizabeth gekom waar van Heerden hulle gaan haal het. Sy sal hulle na afloop van die vakansie terug-neem om weer bus ’n Worcester toe te haal.

’n Hoogtepunt van hul reis tussen Cradock en Worcester is altyd wanneer die bus op Beaufort-Wes stop en hulle toegelaat word om lekkers en koeldrank te gaan koop.

Jason vertel dat hulle ses in ’n klas is terwyl Abongile in ’n klas van vier is. Hulle woon in Huis Murray en leer allerhande dinge in die koshuis soos dat hulle almal moet plat val wanneer die bomdreigementklok afgaan.

Abongile sê ook hy weet as die son rooi word in die weste is dit tyd om koshuis toe te gaan om te gaan stort.

Die twee het vertel dat hulle baie lekker in die koshuis eet met pap in die oggend, vleis en groente in die middag en disse soos macaroni en kaas en hul gunsteling, varkworsies en kapokaartappels (mash), in die aand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article