CRADOCK Noord NG Kerk se nuwe predikant, ds. Annatha Nel van Hartskroon, lewer op 7 April haar intreepreek op Cradock.
Sy kom in die plek van Ds. Attie van Wyk wat na Skotland emigreer het.
Ds Nel, oorspronklik van Prieska, het in 2012 as predikant aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ge-kwalifiseer.
In November 2014 is sy gelegitimeer en in 2017 het sy die graad M.TH in gemeentestudies verwerf. Van 2009 tot 2013 was sy betrokke met prediking en gemeentewerk by die NG Kerk in Prieska. Sy was ook van 2011 tot 2013 betrokke by jeugwerk en kampe by die NG Kerk, Bloemfontein-Wes.
Die jaar 2014 was haar gemeentejaar by die NG kerk Kimberley.
Annatha, wat al voorheen ook promosiewerk gedoen het en as kelnerin gewerk het, was ook betrokke by graangradering in Prieska en ouderling in die NG kerke van Kimberley en Bloemfontein-Wes.
Op sportvlak was sy haar skool se sportvrou van die jaar. Sy het op universiteit ook netbal gespeel en afgerig en sokker gespeel. Ds Annatha is getroud met AJ Nel, oorspronklik van die Boesmanland, wat tams met skape naby Hopetown boer.
“Hy sien daarna uit om die Cradock landbougemeenskap te leer ken en deel van hul bedrywighede te word,” het sy gesê.




