CRADOCK se munisipale stortingsterrein is ’n groot oogseer, ’n gesondheidsrisiko en ’n bron van kommer vir inwoners van dié dorp.
Dit is deesdae nie alleen gevaarlik om na die terrein te gaan nie, maar die ingang is so versper dat inwoners nou sommer hul afval buite die terrein, en in sommige gevalle langs die hoofpad, neergooi.
Inwoners is ook van mening dat die stortingsterrein ’n groot gesondheidsrisiko vir hulle inhou met dooie diere en medisyne wat reeds verval het, wat daar rondlê.
Bewoners van die terrein wat nie skroom om met die publiek handgemeen te raak nie, hou ook ’n gevaar in.
Volgens Charles Featherstonehaugh, voorsitter van die plaaslike sakeforum, is daar ook gereeld brande op die terrein wat nie onmiddellik geblus word nie.
“Met winter wat aankom en suid-westelike winde wat dan gereeld waai, word hierdie rook direk na die dorp toe gewaai,” het hy gesê en verduidelik dat dit asemhalingsprobleme veroorsaak en dat dit ook bekend is dat brandende plastiek in mikroskopiese deeltjies opbreek wat karsinogenies – kankervormend – is.
Op 17 Mei vanjaar sal dit presies drie jaar wees wat die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) ’n bevel teen Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) en sommige van sy amptenare uitgereik het om hulle te verplig om sekere verbeterings aan die gebied aan te bring.
In die bogemelde saak, wat deur Cradock Besigheidsforum en Groot Visrivier-waterverbruikersvereniging gewen is, is onder meer beveel dat ’n permanente heining met ’n bemande toegangshek om die gebied opgerig moet word. Featherstonehaugh sê die heining is wel opgerig, maar was van so ’n swak gehalte dat dit nou stuk-stuk plat lê. Van die bemande toegang het niks gekom nie.
Die hofbevel stipuleer ook dat alle vure wat op die gebied uitbreek binne vier ure geblus moet word, maar rookwolke styg nog steeds bykans daagliks uit die gebied op.
Daar was net ná die hofbevel uitgereik is ’n poging om vullis buite die terrein op te ruim, maar dit gebeur ook nie meer nie.
Featherstonehaugh sê omdat vullis rond en bont gestort word, word die Groot Visrivier ook besoedel wat saam met probleme by die rioolaanleg, reuse probleme vir besproeiingsboere onderkant die dorp veroorsaak.
Van die kennisgewingborde met inligting oor waar vullis gestort en nie gestort mag word nie, het nooit iets gekom nie.
Xolela Msweli, IYM se munisipale bestuurder, het Maandag bevestig dat hulle ’n lisensie verkry het om die huidige stortingsterrein te sluit. Hy het ook bevestig dat ’n aansoek reeds by die departement van omgewingsake ingedien is vir fondse vir ’n nuwe aanleg.
“Die plek sal afhang van sekere toetse wat deur die departement gedoen moet word om die ligging te bepaal,” het Msweli gesê. Planne vir ’n nuwe aanleg sluit Middelburg ook in, het hy bygevoeg.

