DIE eerste skooldag by die Laerskool Carinus in Michausdal by Cradock het die afgelope Dinsdag stil verloop.
Alhoewel al die onderwysers reeds vroegdag op hulle poste was, het geen kinders opgedaag nadat die skool se beheerraad gedreig het om die hekke te sluit totdat die departement van onderwys en opleiding die tekort aan onderwysers by die skool aangespreek het nie.
Volgens die skoolhoof, Louis van Jaarsveld, het hulle die hele eerste kwartaal geen onderwyser gehad om vir die gr. 7’s onderrig te gee in sosiale wetenskappe, natuurwetenskappe en skeppende kuns nie.
Ná verneem word is daar 156 gr. 7’s in die skool wat voorberei moet word om volgende jaar hoërskole in die gebied by te woon.
Terwyl ontevrede ouers buite en op die skoolterrein rondgestaan het, het Dylan Erasmus, die skool se nuwe gr. 7-onderwyser, opgedaag.
’n Woordvoerder van die skool se beheerraad het die teenwoordige ouers bedank vir hul ondersteuning.
“As dit nie vir die ouers se ondersteuning was nie sou die beheerraad nie daarin geslaag het om ’n onderwyser aangestel te kry nie,” het hy gesê.
Hy het ook die ouers gevra om hul kinders aan te moedig om middagklasse by te woon indien dit sou nodig wees vir hulle om werk op te vang.

