DAAR was talle trotse oomblike vir elke Gilliaan wat kon deel wees van dié instansie se onlangse 150ste bestaansjaar vieringe.
Net soos 150 jaar gelede het die verrigtinge in die NG Kerkgebou begin waar ds. Johan Ors-mond ’n aangrypende boodskap gelewer het.
Ná dié verrigtinge het die tromspelers, die onderhoofmeisie en hoofseun met die lands- en skoolvlae, die skoolhoof, Shirley Slater-Billet, en die eregaste die kerk verlaat en in Nojoli-straat bymekaar gekom. Hulle is gevolg deur oud-skoolhoofde, beamptes van die onderwysdepartement en leerders.
Die optog het by die skoolgronde ingedraai waar die skoolhoof die deure, net soos 150 jaar gelede, oopgesluit het. Twee 150-baniere is aan weerskante van die trap oopgerol.
Die Acapella-groep, onder leiding van Junior Yantola, het toe ’n lied gesing waarna die eregaste, leerders en personeel na die verwelkoming en toesprake geluister het.
Die skoolhoof het in haar toespraak melding gemaak van die Sankofa voël waarvan die voete vorentoe wys, maar die gesig agtertoe met ’n goue eier in sy bek. Volgens haar stel hierdie voël presies voor waarna by Gill-Kollege gestreef word: om die beste van die verlede te neem, dit die toekoms in te dra terwyl tred gehou word met die jongste ontwikkelinge.
Toast Coetzer, ’n oud-Gilliaan, bekende joernalis, skrywer vir WEG en GO! en – wanneer hy nie op die pad is nie – aanbieder by Bush Radio, is toe aan die woord gestel. Coetzer is trots op Gill en praat met groot lof van die skool.
“Dit wat jy leer op die skoolbanke (en in die boeke) is belangrik, ja, maar dit is net so belangrik wat jy buite die skoolbanke leer. Die waardes wat jy byna soos suurstof inneem by ’n skool soos Gill is iets wat jy vir die res van jou lewe op gaan steun, selfs al vervaag die boekkennis dalk met die jare. “Met hierdie waardes kan Gilliane ’n waardige en belangrike bydrae maak aan die land en wêreld waarbinne hulle woon – nie net as ‘grootmense’ nie, maar onmiddellik,” het Coetzer gesê.
Ná die toesprake is die Gill-lied in Engels en Afrikaans gesing en die onderhoofmeisie en hoofseun het kranse op die grafte van dr. Gill en mnr. Coppens gelê.
Die leerders het ook verjaardagkoek gekry.
Gill-Kollege het verskeie geleenthede gehou om hulle 150ste bestaansjaar te vier.
’n Pretloop en bergfietswedren het op 8 Maart die verrigtinge begin. Janré Fourie, ’n gr. 10-leerder, was die wenner van die 5km pretdraf, terwyl Vukile Peta eerste in die 10km mans-resies was en Sphila Mapumulo die eerste vrou in die 10km was.
Volgende was die Blits Kultuuraand op 11 Maart waar Gill gewys het dat hulle ook op kultuurgebied skitter met pragtige sang, voordrag, kort dramas en monoloë.
Leerders van die Hoërskool Cradock het ’n haelbui trotseer en saam met die Gilliane kom optree. Volgens een van die Gill-onderwyseresse was dit “’n onverwagte en mooi gebaar van welwillendheid wat hoog op prys gestel word.”
Skaterlag en gille van die opgewonde kinders het geheers by die pretdag en gala op 12 Maart.
Die waaghalse het die uitdaging van meganiese bul aangevat en daar is ook in netbal, vlugbal, raakrugby en sokker meegeding.
Gill het ook ’n 150m swem-kompetisie gehou. Twee Gill-spanne, sowel as die GBG, McCaughey’s, Pierre and Co. and Rhi-spanne, het deelgeneem en hul resies voltooi. Rhi Farrell het as ’n eenman-span die 150 lengtes voltooi.



