DIE Amerikaanse besigheidsmagnaat en filantroop Warren Buffet het gesê: “Iemand sit vandag in skadu omdat iemand anders lank terug ’n boom geplant het.”

Dít som baie eenvoudig die inspirasie agter die Adopt-A-Tree-projek op wat in 2017 in Nieu-Bethesda gestig is en bestuur word deur Community Upliftment & Environmental Rehabilitation Projects (CUER).

Adopt-a-Tree is ’n omgewingsbewusmakingsprojek wat tegelyk ten doel het om Nieu-Bethesda in ’n boomryke dorpie te omskep. Met eie fondse en donasies het Justin Duckitt (skepper van CUER) die projek begin deur 27 peerbome in Hudsonstraat te plant, en het daarmee die dorpie met Pienaarsig verbind.

Daar word gehoop om in 2019 genoeg fondse in te samel om ’n tweede laning bome van sowat 30 bome te kan aanplant, wat weer eens die dorpie met Pienaarsig sal verbind. Dit kos R2 000 om ’n boom te plant en vir die eerste vyf jaar te versorg. Die bedrag dek die koste van die boom, die plant en gereelde natlei daarvan, asook beskerming teen die bokke en donkies wat vryelik in die dorp rondloop.

Enigeen kan ’n boom aanneem of ’n donasie maak om met die projek te help. Wanneer ’n boom aangeneem word, bring Adopt-A-Tree ’n plaatjie aan met die skenker se naam en die datum, sodat skenkers met ’n besoek aan Nieu-Bethesda dié nalatenskap aan vriende en familie kan wys. Daar word deeg-lik rekord gehou van elke boom, en Adopt-A-Tree kan jaarliks foto’s stuur om aan ’n skenker te toon hoe die boom gegroei het.

Om ’n boom aan te neem of meer oor die projek uit te vind, kontak Lorian by 081 271 2658 of e-pos adoptatreenb@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article