SAAM met die welkome reën wat die afgelope naweek oor Fort Beaufort uitgesak het, het die “Paashaas” met ’n politieke agenda ook besluit om die afgelope Sondag op dié dorp ’n draai te maak.
Anders as vorige verkiesingsjare was daar egter nie kospakkies nie.
Die regerende party het vanjaar sy gebruiklike T-hempies aan voornemende kiesers eerder met vrugtepakkies gekombineer.
Honderde T-hempies met die president se gesig daarop is Sondag by die stadsaal uitgedeel.
Mid-Karoo Express het moeite gedoen om die inhoud van die pakkies na te gaan nadat van die ontvangers dit as “’n klap in die gesig” afgemaak het.
“Dink dié mense regtig ons is so dom?” het ’n ontvanger, wat verkies om anoniem te bly, in verontwaardiging uitgeroep.
Binne die plastiekpakkie was een enkele piesang, twee klein klipharde pere en agt piepklein nartjies wat nooit eens die plaaslike mark sou haal nie.
In die Newtown-woonbuurt het kinders opgewonde agter ’n padskraper aangehardloop wat seker ten tye van die vorige verkiesing laas gesien is.


