SATERDAG, 6 April was ’n ideale dag vir Middelburg se spelers om behoorlik hulle staal op die gholfbaan te wys.
Die jaarlikse Sanlam Kanker-gholfdag is altyd ’n groot dag op die kalender waarna menigte gholf-spelers uitsien. Sanlam-adviseur Johannie van der Ahee het spesiaal van Bloemfontein gereis om die deelnemers toe te spreek, saam te speel en die pryse te oorhandig.
Die gholfdag, geborg deur Sanlam en CANSA, word jaarliks sedert 1993 landswyd aangebied. Ongeveer R50 miljoen is die afgelope 26 jaar vir kanker ingesamel. Ongelukkig het Sanlam onlangs besluit dat 2019 die laaste jaar van die geborgde gholfdae sal wees.
Van der Ahee het egter die spelers gerus gestel dat hy reeds beplan om steeds sy kliënte en ondersteuners met ’n persoonlik geborgde gholfdag te bederf, terwyl hy hulle oor die lang afstand van 18 putjies sal vergesel.
Etlike pryse en gelukkige trekkings ná afloop van die gholfdag het gesorg dat geen gholfspeler leë hande huis toe is nie.



