’n TOTAAL van 21 bekommerde inwoners vanuit al die onderskeie woonbuurte van Hofmeyr, het die afgelope week ’n vergadering in die kerksaal bygewoon.
Gemeenskapsleiers, skoolhoofde, onderwysers, predikante, besigheidseienaars en pensioentrekkers was onder die teenwoordiges.
’n Afvaardiging vanaf die SAPD in Cradock was ook verteenwoordig. Talle kwessies het aandag geniet en oplossings is gesoek vir verskeie probleme.
Daar is in Hofmeyr en omliggende areas ’n groot probleem met persone wat nie identiteitsdokumente het nie, en dit nie kan bekostig om na Cradock te reis om dit te bekom nie.
Dan is daar ook talle kinders wat nie geboortesertifikate het nie, en daarom nie in die skoolstelsel geakkommodeer kan word nie.
Nasorg vir leerders of sportgeleenthede bestaan nie, en daar is ook geen publieke ruimtes waar kinders kan speel, of waar leerders kan gaan sit om in stilte te studeer, vir byvoorbeeld ’n matriekeksamen, nie.
Daar is vanjaar 27 matrikulante in Hofmeyr en die gemeenskap is dit eens dat alles moontlik gedoen moet word om hierdie leerders die beste geleentheid te gun om hul finale skooljaar en eindeksamen suksesvol af te handel.
Kinders wat doelloos ronddwaal moet konstruktief besig gehou word. Verskeie opsies is bespreek en sal deur persone vanuit die gemeenskap aangespreek word.
Dit sluit in kunsprojekte, balspele, naaldwerk asook ’n veilige speelgebied.
Hierdie was slegs die eerste van ’n reeks vergaderings waarby die gemeenskap hul betrokkenheid sal toon, en waar die onderskeie staatsdepartemente – waaronder die departement van sosiale ontwikkeling, die departement van justisie, die departement van binnelandse sake, Legal Aid en die polisie – ook sal inskakel ten einde Hofmeyr ’n veiliger plek vir nie net kinders nie, maar alle inwoners en senior burgers te maak.


