DIE 38-jarige Francois Coetzer, ’n plaaskind van Hofmeyr, is besig om as waaghalskunstenaar bekendheid te verwerf in Hollywood.
Coetzer het tydens sy hoërskoolloopbaan by die Hoër Landbouskool Marlow reeds groot naam gemaak toe hy sy Springbokkleure in paalspring by die SA-spele behaal het.
Hy het in 1998 matrikuleer by Marlow, en homself daarna as ’n “Stunt Rigger” bekwaam. Dit behels die bou van raamwerke wat deur waaghals-dubbelspelers gebruik word om verskeie aksie-tonele in rolprente uit te voer.
Hy is tans die eienaar van die Blackrat Stunts-maatskappy wat in Hollywood gevestig is. Vir die nuwe film Hellboy, wat op 12 April vanjaar wêreldwyd vrygestel word, het hy en sy span die monteerwerk gedoen van ’n massiewe reus van bykans sewe meter.
In dié film, deur die filmmaatskappy Lionsgate, ontstaan daar ’n geveg tussen die demoon gespeel deur die akteur, David Harbour, wat die hoofrol vertolk in die film, en sy waaghals-dubbel, Ivailo Dimitrov, met die reus.
Volgens Coetzer het hierdie projek aanvan-klik as ’n klein projek om ’n koffietafel begin waar ses “riggers” saam gesels het om te besluit hoe hulle ’n reus met beweging gaan skep, sodat die akteurs teen ’n “regte” reus kan veg in plaas daarvan om, soos gebruiklik, net te maak of hulle veg sodat die reus daarna met rekenaartegnologie ingevul word.
Die projek het gegroei en is nou die eerste mensgemaakte sewe meter hoë reus teen ’n blou agtergrond. Die reus word beheer deur ses mans wat in die agtergrond dit manipuleer, terwyl die akteurs teen hom veg.
Volgens Coetzer is die visuele span by Lionsgate Films uiters beïndruk met die eindproduk, want dit het baie waarde toegevoeg tot die geloofwaardigheid van die tonele waarin die mensgemaakte reus speel.
Coetzer sê die grondslag wat Marlow gelê het in die tegniese klasse, het hom tot groot hoogtes aangevuur.



