AS goeie musiek en gedigte jou hart laat vin- niger klop, en ’n geheimsinnige beskrywing soos “Ligweg ondergronds” jou nuuskierig het, kan jy maar weet jy het bokkoors onder lede.
Gelukkig het jy nie nodig om ’n duur afspraak by die huisdokter te maak nie, en hoef jy ook nie jou geweer skoon te maak nie; ’n kaartjie vir The Buckfever Underground se eersdaagse vertonings in die Karoo is al wat jou sal kan genees.
The Buckfever Underground is ’n musiekgroep wat in 1998 in Grahamstad “gebore” is, en het reeds bekroonde albums soos onder meer “Jou Medemens Is Dood” (1999), TAFL – Teaching Afrikaans as a Foreign Language (2003) en Verkeerdevlei (2012) die lig laat sien.
Die groep bestaan uit bekende joernalis en TV-persoonlikheid Toast Coetzer (lirieke en vokaal), Stephen Timm (tromme) en Michael Currin (kitaar), en het al opgetree saam met die eenman folk-punk kunstenaar SkreeAlleen. Hulle onderneem tans ’n 21-dae toer om hulle splinternuwe album “Last Days Of Beautiful” bekend te stel.
“Ons toer nie gereeld nie,” het Coetzer vertel, “en ons is ’n klein en onbekende band. Maar ek weet tog dat mense, veral in die platteland, altyd bereid is om na interessante goed te gaan kyk. Daarom hou ek daarvan om in die klein dorpies te speel. Ons speel dikwels sommer net by ’n fan of familielid se huis – 10, 20 mense is genoeg van ’n crowd vir ons.”
Die vertoning bestaan uit gedigte wat voorgelees word en musiek daarby, en elke vertoning is uniek, omdat dit ’n genre is wat nie in sement gegiet is nie. Die Karoo word sommer lekker bederf met The Buckfever Underground wat by drie dorpe aandoen:
- 17 April: Somerset-Oos. Gratis vroegmiddagvertoning by Karoo Tech Hub. Kontak George by 063 746 0511.
- 17 April: Cradock, R125 per persoon met aandete by Victoria Manor. Kontak lisa@tuishuise.co.za.
- 25 April: Graaff-Reinet, R50 per persoon by Hartland Huis. Kontak karlien@hartlandmedia.co.za.


