DIS Paasfees! En vir die kleinspan is dié tyd gewoonlik sinoniem met Paaseiers . . .

Maar vir sommige minderbevoorregte kinders is dié sjokoladehasies en -eiers net ’n luukse en onbekostigbaar. So, om seker te maak dat daar ’n bietjie sjokoladevreugde by die kinders van Cradock, Lingelihle en Michausdal heers, het Wolsak Vervoer besluit om later vandag (Donderdag) Paaseiers hier uit te deel.

Hulle gaan, soos verlede jaar tydens Kersfees, met hul trokke – versier met tientalle liggies – deur die strate van bogenoemde woonbuurte ry en Paaseiers aan kinders gee.

“Ons deel die Paaseiers uit aan die gemeenskap want die kinders hou van die lorries se liggies en daar is soveel kinders wie se ma’s en pa’s nie kan bekostig om vir hulle Paaseiers te gee nie. Ons gooi dit by die lorries uit, terwyl ons in die strate ry, sodat almal ietsie kan kry,” het Corné Gerber, mede-organiseerder, vertel.

Wolsak Vervoer se trokke sal laat vanmiddag te sien wees op hoofsaaklik die hoofroetes van die onderskeie gebiede.

Gerber sê indien daar nog mense is wat graag Paaseiers of lekkers wil skenk, kan hul dit tot vandag by Hospitaalstraat 61 in Cradock aflewer.

“Ons vra die gemeenskap se hulp – nie almal kan iets op hul eie doen nie en dit gaan vir ’n goeie doel!” het sy gesê.

Vir meer inligting, bel Gerber by 072 315 2267.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article