LEDE van die SAPD in Graaff-Reinet en Jansenville het onlangs in samewerking met die Oos-Kaapse Drankowerheid teen onwettige drankhandelaars opgetree.
By ’n woning in Hollandlokasie, Jansenville, is beslag gelê op 520 liter van ’n tuisvervaardigde alkoholkonkoksie met ’n straatwaarde van R2 800.
Volgens polisiewoordvoerder kaptein Bradley Rawlinson stuur die SAPD en die Oos-Kaapse Drankowerheid hiermee weer eens ’n duidelike waarskuwing aan drankhandelaars. “Volg die korrekte roetes en bekom ’n dranklisensie of bots met die lang arm van die gereg!”
Die gemeenskap word gewaarsku om nie onwettige drankhandelaars te ondersteun nie, veral omdat tuisgebroude kon-koksies dikwels giftige chemikalieë bevat wat potensieel dodelike gevolge vir gebruikers kan inhou. Onwettige drankhandel kan by 049 807 1155 gerapporteer word.



