“EK kan dit nie verstaan nie, Dokter,” sê ’n man wat op aandrang van sy familie die psigiater moes gaan spreek. “Is dit abnormaal om van worsbroodjies te hou?”
“Wel, nee,” antwoord die medikus. “Om die waarheid te sê, ek kan ook nogal ’n lekker warmbrak waardeer.”
Die pasiënt lyk verlig en opgewonde. “Dokter, dan móét u na my versameling kom kyk! Ek het duisende!”
Of jy nou klippe, seëls, karretjies of porseleinpoppe versamel, dié soort stokperdjie kan ure se vermaak en selfs ’n rand of twee se wins verskaf.
Die Midland Car Club, in samewerking met die Gereformeerde Kerk van Graaff-Reinet, bied op Saterdag, 21 September die tweede Versamelingskou aan, en dié keer beloof dit om nog groter en beter as die eerste een te wees.
“Ons het laas keer 33 uitstallers gehad,” het organiseerder Carol-ann van Jaarsveld vertel, “en ons hoop om dié getal vanjaar te verdubbel.”
Daar was ook 72 klassieke en veteraanmotors en vanjaar se mikpunt is 180. Die Southern Cape Car Club van George kom ook met hul “blinkwiele” spog en vertrek dan sommer die volgende Maandag vanuit Graaff-Reinet op hul jaarlikse Erfenistoer.
Die Versamelingskou word in die saal en Kewertjie van die Laer Volkskool gehou. Die vierkant, parkeergebied en rugbyveld sal ook gebruik word.
“Dit kos niks om jou versameling in te skryf nie. Almal wat 20 of meer versamelstukke het (dit kan letterlik enigiets wees), ’n goed opgepaste of gerestoureerde motor, trekker, trok of motorfiets ouer as 30 jaar, kan aan die uitstalling deelneem,” sê Van Jaarsveld.
Daar is selfs prysgeld van R5 000, R2 000 en R800 vir die beste drie versamelings.
As jy jou versameling wit olifante wil uitdun, bespreek ’n staanplek vir die kattebakverkoping (R50).
Instansies soos skole, kerke, ouetehuise of verenigings kan staanplek vir kosstalletjies bespreek teen R100.
Om meer oor dié hoogtepunt op Graaff-Reinet se kalender uit te vind, stuur ’n e-pos na info@mcc.co.za, kantoor@gkgraaff-reinet.co.za of skakel 082 336 5983.


