’n GROEP gemeenskaps-bewuste vroue van Steynsburg het besluit dat hulle die einde van die pad bereik het met klagtes en dat hulle nou gaan saamstaan en iets doen aan die welstand van die gemeenskap in Steynsburg.
Die groep, bekend as Women Arise, staan onder leiding van Cathy Koeberg-Anderson, ’n afgetrede mediese suster wat tans ook betrokke is by die Marais Steyn Huis vir bejaardes.
Volgens haar kon sy eenvoudig nie langer meer bloot toekyk hoe babas regdeur die nag huil omdat beide ouers besope is – veral op die einde van ’n maand nie. Vrouens en kinders word ook aangerand en talle honger en ondervoede kinders daag by die skole in Steynsburg op. Die bakkie kos wat hulle daar kry is die enigste voeding wat hulle ooit sien.
Straatkinders is aan die orde van die dag en hierdie kinders kry die swaarste. Hulle het nie naastenby genoeg versorging of klere om hulle deur die winter wat voorlê te beskerm nie.
Bejaarde mense word dikwels belas met talle minderjarige kindertjies wat bloot by hul afgelaai word, en hul SASSA pensioen is nie naastenby genoeg om vir die versorging van hierdie kinders te betaal nie.
Die ouma- en oupagrootjies het ook nie meer die krag om by te hou met die kleingoed se eise nie. In sommige gevalle word die kinders eenvoudig net so gelos en die ouers verskyn soms een keer per jaar.
Om iets daadwerklik aan die situasie te doen, het die dames van Women Arise die vervalle saal van die Methodiste Kerk in Steynsburg bekom.
Daar is lankal nie meer ’n badkamer of toilet in die gebou nie, en die kombuis is ook net ’n murasie. Die vloere, deure en plafonne van die kleiner vertrekke is uitgesteel. Maar daar is ’n groot lokaal met ’n sementvloer en die groepie dames het besluit om daarvan ’n gebedsaak te maak en die bul by die horings te pak.
Volgens Koeberg-Anderson sal ’n formele tee-geselligheid eerskomende Saterdagmiddag daar gehou word. Voorbereidings is volstoom aan die gang en haar groep van vyf vroue, almal leiers in hul onderskeie gemeenskappe, gaan die ge-leentheid gebruik om die inwoners van Steynsburg in te lig oor hul planne van aksie vorentoe.
Verskeie gassprekers sal ook optree en kaartjies word vir die geleentheid verkoop.
Onderwerpe wat bespreek gaan word is “Ge-sonde verstand, gesonde siel, vreugdevolle gees” asook “Wees ’n vrou met integriteit”.
Sprekers sal ook “Hoe benader jy die kwellinge in jou lewe, en hoe benader jy ander met meer kwellings as jy” en “Kwessies van vroue se huidige bestaan in ons land en hoe om dit te hanteer” bespreek.
Raad oor herwinning en die praktiese implementering daarvan vorm ook deel van die program.

