DIE ongeluk het twee De Freitas-broers, wat eienaars van SPAR op Somerset-Oos is, behoorlik gery met albei broers wat binne ’n week of twee uitmekaar in amper identiese ongelukke beseer is.
Die ongelukke het daartoe gelei dat eers die ouer broer, Manuel de Freitas, dae lank in die intensiewe-sorgeenheid by die St. George-hospitaal in Port Elizabeth verpleeg is en ’n paar dae later sy jonger broer, José, ook.
Manuel het buite in die winkel se laaiterrein met sy rug teen ’n vurkhyser se “deur” gestaan toe een van die groot aflaaivoertuie van SPAR agteruit in die aflaaisone intrek.
Hy was bewus van die voertuig wat ingery het, maar vir ’n oomblik is sy aandag deur ’n geluid vanaf die winkel se enorme kragopwekker afgetrek, en toe hy hom kom kry, het die groot voertuig se oopslaanklap hom vol in die maag getref.
Gelukkig het hy die klein spasie van die “deur” gehad waarin hy teruggestoot is, maar die slag was steeds hard.
Eers het hy net effens styf gevoel en die volgende dag nog gaan werk, maar hy het skielik begin siek voel en is inderhaas deur familielede na Port Elizabeth gehaas.
Daar is hy geopereer vir ’n gebarste kolon en het ná die operasie ’n paar kleiner terugslae gehad, waarna hy ontslaan is en dadelik sy pos hervat het.
Terwyl Manuel in die hospitaal was, is José in nóg ’n ongeluk beseer – hierdie keer binne in die winkel se aflaaistoor waar die vurkhyser besig was om goedere af te laai.
Hy het met sy rug na die hyser gestaan en was besig met vorms waar hy by die rak gewerk het.
Toe die drywer die hyser in beweging bring, het die koppelaar uitgespring en die hyser het José in die rug getref.
Daar was nie spasie voor hom nie en die slag was so hard dat hy sy bewussyn verloor en op die vloer beland het.
Ook hy is inderhaas hospitaal toe gejaag en vir ’n gekraakte bekkenbeen geopereer.
In die intensiewe-sorgeenheid het hulle later ontdek dat sy kolon ook gebars het en hy is daarvoor geopereer.
José is pas ontslaan en sterk tans tuis aan.
Van die twee broers, was hy die ongelukkigste, maar hy sê: “Ons is albei baie gelukkig om te lewe.”


