SESTIG MG klassieke motors van so ver as Kaapstad, Knysna, Port Elizabeth, Oos-Londen en Johannesburg het van verlede Donderdag tot Sondag in Markstraat, Cradock bymekaargekom vir hul twee-jaarlikse interprovinsiale saamtrek.
Die motors dateer uit die jare 1937 tot 2004 en almal het net twee sitplekke. MG staan vir Morris Garages Britain en hulle word sedert 2005 nie meer vervaardig nie.
Volgens Peter Rheebein van Port Elizabeth, organiseerder van die saamtrek, bestaan hulle groep uit 120 bestuurders en passasiers en het hulle besluit om op Cradock saam te trek aange-sien dit die mees sentrale punt in die land vir al die deelnemers is.
“Ons was vier jaar gelede ook op Cradock en aangesien ons dit toe so geniet het, was dit nie moeilik om eienaars te oortuig om weer Karoo toe te kom nie,” het Rheebein gesê.
Volgens hom trek die MG-klub elke twee jaar saam en was hulle twee jaar gelede in Wildernis.
“Die saamtrek is eerstens ’n geleentheid om met ons motors te spog, maar ook ’n geleentheid vir ou vriende om weer saam te kuier,” het hy gesê.
Die besoekers het Donderdag op Cradock aangekom en het hul eerste aand al kennis gemaak met Karoo-gasvryheid toe skaappastei en slaai bedien is.
Vrydag is gekenmerk deur ’n fotosessie van al die motors en ’n baie opwindende geheime toer waar die besoekers van Cradock se landmerke moes opsoek. Die aand is afgesluit met ’n Karoo-dinee en langarm-dansmusiek deur Chris Brits se Boere-orkes.
Saterdag is die spogmotors vertoon in Mark-straat waar besoekers die lae, oop motortjies in alle kleure kon beskou.
Sommige het speekwiele of seiltente gehad, maar almal was goed versorg en in die mooiste kleure denkbaar.
Saterdagaand het die gaste ’n ware Karoo-spitbraai geniet terwyl hulle kon dans met 1960 se flower power-musiek.



