Clinton du Plessis en Robert Pearce. FOTO: WILNA DE KLERK


CLINTON du Plessis, bekende skrywer, het onlangs sy tiende, en volgens hom, sy laaste digbundel op Cradock bekendgestel.

Hierdie bundel wat Du Plessis Verslag noem, bevat 68 van sy nuutste werke waarvan 18 oor die lewe, 27 oor werk en 23 oor die dood handel.

Robert Pearce, van Nelson Mandela-universiteit, wat as gasspreker opgetree het, het Du Plessis as ’n digter in opstand beskryf en een wat nie bang is om netelige kwessies in die gemeenskap aan te spreek nie. Hy het hom geloof omdat hy in al sy bundels graag skryf vir mense wat nie vir hulself kan praat nie.

“In Verslag,” het hy gesê, “word aan verskeie kwessies geraak en alhoewel die gedigte in drie duidelike groepe verdeel is, is daar hier ook die interessante randfigure om na op te let, soos in al Du Plessis se ander werke.”

Pearce, wat ’n jarelange vriend van Du Plessis is, het hom aangemoedig om nie die tiende digbundel as sy laaste te beskou nie en steeds vol te hou om leserskringe te bevredig.

Leon van Wyk, kurator van Olive Schreiner-huismuseum waar die bekendstelling plaasgevind het, het meer oor die museum vertel en gesê dit is nie toevallig dat Du Plessis se boekbekendstellling juis in die museum gehou is nie, aangesien Olive Schreiner ook een van Cradock se bekendste skrywers was. Gaste uit omliggende dorpe het die bekendstelling saam met ’n groep Cradock-lesers bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article