XOLELA Msweli, munisipale bestuurder van Inxuba Yethemba-munisipaliteit, het Dinsdagmiddag bevestig dat ’n tydelike reëling met Eskom getref is en dat Cradock en Middelburg se kragvoorsiening nie op 4 Junie afgesluit sal word nie.
In ’n desperate poging van die kragvoorsiener om die R98 miljoen wat die munisipaliteit hom skuld in te vorder, het Eskom gedreig om vanaf 4 Junie in Middelburg en Cradock beurtkrag van tussen ses en 14 ure daagliks in te stel.
Volgens Msweli het hulle in samesprekings met Eskom reëlings getref dat ’n bedrag van R10 miljoen môre (Vrydag) inbetaal sal word en dat die ligte in die twee dorpe vir eers sal aanbly.
Op ’n vraag of die munisipaliteit die fondse het om aan Eskom te betaal, het Msweli bevestig dat Chris Hani-distriksmunisipaliteit die geld aan Eskom sal oorbetaal uit fondse wat die distriks-munisipaliteit aan Inxub Yethemba-munisipaliteit skuld.
Msweli het gesê dat hulle binnekort weer met Eskom sal vergader om toekomstige afbetalligsmetodes te bespreek.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit het ook reëlings getref om Eskom in die toekoms op ’n kwartaalbasis te betaal, aangesien dit die munisipaliteit beter sal pas.
Msweli het inwoners van Cradock en Middelburg versoek om geduldig te wees en gesê dat hy hulle wil verseker dat die probleem opgelos sal word.
In ’n onderhoud wat Maandagoggend op Radio Sonder Grense uitgesaai is, het Msweli weereens verduidelik dat die munisipaliteit ontevrede is oor die feit dat Eskom direk elektrisiteit aan drie wyke in Cradock verkoop.
“Dit kniehalter ons in terme van kredietkontrole, en omdat ons nie die elektrisiteitsvoorsiening na dié woonbuurte beheer nie, bring dit mee dat die duisende inwoners van dié drie wyke hul nie steur aan munisipale diensleweringsrekeninge nie,” het Msweli gesê.
Hy het die hoop uitgespreek dat Eskom in die nabye toekoms die elektrisiteitsvoor- siening van dié drie wyke aan IYM sal oorgee, maar met die munisipaliteit se huidige twyfelagtige kredietrekord, is dit nie waarskynlik dat die kragreus dié wens van IYM binnekort sal bewaarheid nie.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit skuld Eskom R98,7 miljoen en Eskom het gedreig om die twee dorpe se kragtoevoer in die komende week daagliks van 08:00 tot 09:00 en van 17:00 tot 20:30; en Saterdae en Sondae van 08:30 tot 12:00 en 15:00 tot 19:00 te sny. In die tweede week sou krag van Maandag tot Sondag van 06:00 tot 20:00 afgeskakel word.
Eskom het ook gesê dat hulle des nie teen-staande die bogemelde – met ’n kennisgewing van 15 dae – die elektrisiteitstoevoer geheel en al en onbeperk kan afskakel.

