Die John Rupert-teater is ’n nasionale gedenkwaardigheid. Foto: VERSKAF


MET Graaff-Reinet se talle spierwit gewel geboue, die Groot Kerk in die middel van die dorp, en ou-ou eikebome en sipresse, kan mens jou maklik verbeel jy bevind jou iewers in ’n eeue-oue stadjie êrens in die hart van Europa.

Geen wonder dat dié dorp so ’n gewilde bestemming onder Europese toeriste is nie.

Nóg iets wat Graaff-Reinet in gemeen het met Europese dorpies, is die sterk bewaringskultuur en dorptrots, wat nie net verhoed dat die dorp, soos vele ander plattelandse dorpies, totaal verval nie, maar ook sorg vir ’n opbloei in kultuuraktiwiteite.

Daar is nie nog ’n dorp in Suid-Afrika wat kan spog met soveel kultuurorganisasies, nasionale gedenkwaardige geboue, museums en kunsgalerye nie. Voeg daarby die John Rupert-teater, en dis duidelik dat Graaff-Reinet se inwoners weet hoe om ’n waardering vir die fyner dinge in die lewe lewend te hou, selfs hier in die harde Karoo.

Die pragtig gerestoureerde gebou van die John Rupert-teater in Pastoriestraat was vir langer as ’n eeu as sendingkerk gebruik, en is vandag nog ’n bewys van die diep spore wat die Londense Sendinggenootskap sedert 1801 in die bruingemeenskap getrap het.

Dit is nie bekend wanneer die gebou opgerig is nie, maar die bruingemeenskap het trots daarna verwys as die Groot Londen Kerk en dit is ingewy deur dr. John Philip van die Londen Sendinggenootskap, in wie se naam dit oorgedra is in 1847. Die gebou is in 1920 verkoop aan die destydse United Congregational Church, maar het later in onbruik verval totdat dr. Anton Rupert dit in 1969 bekom het.

Die gebou, met sy strak gewellyne en kloktorinkie is netjies gerestoureer en deur Rupert aan die Graaff-Reinet-munisipaliteit oorgedra om in permanente trusteeskap te hou.

Nadat dit ongeveer 10 jaar as kunsgalery gebruik is, is die gebou in 1980 deur die Graaff-Reinet Rotariërklub omskep in ’n teater, met behulp van donasies uit die gemeenskap.

Sedertdien word daar gereeld toneelstukke op die planke gebring, musiekuitvoerings en selfs gemeenskapsvertonings word aangebied. Die stemme van gewilde kunstenaars soos Jannie du Toit en Elvis Blue het ook al in hierdie unieke teater opgeklink.

Rose Wright, voorsitter van die John Rupert-teater se kommittee, vertel, “Dit is werklik ’n voorreg om so ’n lieflike teater in ’n afgeleë dorpie soos Graaff-Reinet te hê, en dit is hier vir almal om te geniet.”

“Dit was oorlede dr. Anton Rupert se wens dat die teater ’n ‘lewende museum vir die gemeenskap’ sou word, en ons as kommittee streef werklik hierna. Vervaardigers en akteurs is altyd diep beïndruk met die teater, en kan nie wag om weer hier op te tree nie. Ons wil die gemeenskap hartlik uitnooi om hul gesinne saam te bring en die produksies wat die John Rupert-teater se planke haal, te kom ondersteun.”

Vir meer inligting oor vertonings, volg die John Rupert-teater se Facebookblad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article