Foto: ELSABÉ PIENAAR

WILCA Smith is ’n dinamiese jong vrou van Graaff-Reinet wat nie bang is vir die besige skedule in die warm stoel as woordvoerder van Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit nie.

“Vir langdradige resepte het ek nie tyd nie,” lag Wilca, “maar ek en my suster, Lianne Hector, maak graag dié joghurttert wat blitsig voorberei kan word, en ook nie so duur is as resepte wat room of roomkaas vereis nie.”

Wilca Smith. Foto:VERSKAF

Bestanddele

1 liter gegeurde joghurt van jou keuse

1 blikkie kondensmelk

1 pakkie tennisbeskuitjies

2 eetlepels margarien/botter

Metode

  • Verkrummel die tennisbeskuitjies en meng gesmelte margarien of botter daarmee tot degerig.
  • Druk die mengsel plat in ’n oondvaste bak om ’n kors te vorm.
  • Klits die gegeurde joghurt en kondensmelk saam in ’n ander bak en mikrogolf vir vier minute (twee minute op ’n slag – roer ná die eerste twee minute).
  • Gooi nou die joghurtmengsel bo-op tennisbeskuitjiekors.

“En as jy nou wil afshow,” voeg Wilca by, “garneer met vrugte van jou keuse wat die joghurt komplementeer. Plaas die tert in die yskas, en voilà! ’n Japtrap- joghurttert is twee ure later gereed vir opdiening!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article