DIE welstand van baie diere op Cradock was in die weegskaal nadat Paddy Orpen, wat Cradock-diereskuiling vir ongeveer vier jaar hoofsaaklik uit haar eie sak bedryf het, weens swak gesondheid die tuig moes neerlê.

Groot diereliefhebber Pepi Hildebrand het toe in die bres getree en die verantwoordelikheid van die skuiling op haar geneem.

“Ek kon dit net nie oor my hart kry om te sien hoe omtrent 40 honde en nog 20 katte uitgesit sou moes word nie,” het sy gesê. Hildebrand is ongeveer 10 jaar lank al verbonde aan die skuiling.

Volgens Hildebrand is finansies egter ’n baie groot probleem. Op die oomblik is dit net sy en een helper, Sinako Matya, wat al die diere moet versorg, die hokke moet skoonmaak, beddegoed moet was, kos moet gee en ook die terrein in ’n netjiese toestand moet hou.

“Dit is regtig te veel werk vir twee mense, maar omdat een van die skuiling se groot donateurs moontlik Cradock gaan verlaat, kan ons nie bekostig om nog iemand aan te stel nie,” het Hildebrand bygevoeg.

Hildebrand sê gelukkig skenk skole soms kos en is daar ’n groep vroue wat maandeliks genoeg kos vir die diere skenk, maar dit is steeds nodig om water en elektrisiteit te betaal en brandstof, veeartse, skoonmaak- en ontsmettingsmiddels vir die hokke te koop.

Volgens Hildebrand verwag sy nie enige kontant donasies van mense nie, maar sal sy dit baie waardeer as goedgesindes kontant op hulle rekeninge vir brandsstof, veeartse of supermarkte sal inbetaal. Besonderhede van hierdie rekeninge kan van haar verkry word by 078 6319 183.

Hildebrand, met die hulp van vyf of ses veeartse, het verlede Woensdag en Donderdag groot sterilisasieveldtogte in Michausdal en die Lingelihle-woonbuurte gehou. Sy beplan nog ’n groter veldtog na die einde van die jaar se kant toe.

“November tot Februarie is gewoonlik die slegste tyd vir ons dierebevolking en ons kry dan gewoonlik tussen 60 en 80 honde in. Dis asof mense wat met vakansie gaan net nie meer hul diere wil hê nie.

“Ook wanneer die skole weer begin en daar baie addisionele onkostes is, bespaar mense heel eerste op hondekos,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article