Agter van links is Hannes Beukes, Jannie Joubert, Tinus du Plessis, Nico Hugo, Andries Lessing, Abri Joubert en Dolph Baard, en voor van links is Dykie de Villiers, Gerhard de Kock, Nico Hattingh (afrigter), Christo Calitz, Francois Tredoux, Johannie van der Ahee en Christo Baard. Hennie Brummer, Gert Kruger en Jannie Roux is afwesig. Foto:JOHANETTE PHOTOGRAPHY


NÁ 42 jaar het die Primêre Skool Karel Theron se o.13-rugbyspan van 1977 die naweek van 1 Junie reünie op Middelburg gehou.

Dié span was legendes in hulle tyd en in 1977 was hulle onoorwonne! Dit was verseker ’n besonderse prestasie en het hulle in daardie jaar 68 drieë gedruk, terwyl daar net agt drieë teen hulle gedruk is. ’n Verdere spoggerige prestasie is die feit dat hulle Grey College in Bloemfontein gaan afstof het en met ’n telling van 26–14, in Karel Theron se guns, teruggekeer het!

Wat hierdie span ook uniek gemaak het, is die feit dat hulle twee tweelinge in die span gehad het. Johan (ook kaptein) en Freddie Fil-malter asook die Baard-tweeling, Chris en Dolph. Dit was hoeka Dolph se slim idee om die reünie te hou en hulle het vinnig aan die werk gespring om al die spanlede weer op te spoor.

Hul afrigter van 1977, Nico Hattingh, het ook spesiaal gekom om saam met die manne by Celtis Country Lodge en Restaurant te kuier.

Vrydagoggend het die span hul alma mater, waar hul 42 jaar gelede diep spore getrap het, gaan besoek. Gedagtes het ver teruggegaan en daar is in teenstelling met toe hulle nog jonk was, dié keer uitbundig gelag toe hulle die ou skool latte in die kluis ontdek het.

Hulle het, soos in die verlede, stoele in ’n ry uitgepak om vir ’n spanfoto te poseer. Al verskil dié keer was die hartseer gedagtes dat die Fil-malter-tweeling en oud-skoolhoof Nic Kruger reeds oorlede is. Gert Smit het later die Vrydag by die groep aangesluit en verder saamgekuier.

Net om te wys party se knieë kan nog buig, is daar in elkeen se oorspronklike posisies weer ingesak, kompleet soos in die ou dae toe Dykie de Villiers die bal in die skrum ingegooi het en die agterlyn gereed gestaan het om die bal pale toe te laat loop.

Saterdag is daar bietjie kilojoules verbrand op Middelburg se gholfbaan, alhoewel hulle graag eerder weer soos ouds op Karel Theron se veld met hul groen en geel truie sou wou uitdraf.


) Middelburg gaan vanaf 1 tot 4 Augustus weer behoorlik dreun onder al die voete van oud-Middies wat die skool se Eeufees en Reünienaweek gaan bywoon. Reüniegroepe is welkom om die skool te skakel by 049 842 1560. Die gemeenskap kan uitsien na ’n vol program vir die naweek tydens die interskole teen Kirkwood.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article