DIE Elizabeth Jordaan-tehuis vir bejaardes het verlede Vrydag tot siens gesê vir Levina Nel wat vir 33 jaar en sewe maande ’n groot rol in die tehuis gespeel het.
Nel vertel dat sy, toe haar man op 34 jaar skie-lik oorlede is en sy ’n weduwee met ’n 4-jarige seuntjie word, teruggekom het Cradock toe waar haar ouers nog gewoon het.
Sy is in 1980 aangestel as sekretaresse en boekhouer by die ‘ou’ ouetehuis in Cradock. Ná nege jaar was dit die groot trek na die moderne nuwe tehuis en bykomende een- en tweeslaapkamer Erica-sentrum waar sy aangestel is as hoof.
Volgens Nel het sy nie ondervinding gehad nie en was die toekoms ietwat onbekend, maar het sy in haar hart geweet dat sy graag met mense wil werk.
“Die pad wat ek geloop het, het my lewe met ongelooflike kennis, lewenservaring, wysheid en interessante karakters en insidente gevul waarvan ek boeke vol kan skryf,” het sy vertel. Sy het gesê geen graad of skool sou haar kon onderrig in wat sy die afgelope 33 jaar en sewe maande geleer het nie.
Haar lewe was allermins sonder probleme, maar die Elizabeth Jordaan-tehuis was te alle tye haar eerste prioriteeit, verantwoorde- likheid en trots.
Nel gaan haar aftrede gebruk om ’n bietjie rond te reis en vriende en familie te besoek waarvoor sy vir lank nie tyd gehad het nie. Sy is baie kreatief en gaan haar besig hou met strokperdjies soos verf, mosaïekwerk en ander handwerk waarvoor sy baie lief is.
Haar raad aan haar opvolger Retha Bonnet, wat van Kirkwood kom, is om altyd kalm, rustig en geduldig te bly en nooit impulsief op te tree nie.
Volgens Bonnet besef sy dat sy groot skoene moet volstaan. “Ek het die laaste maand wat ek en Nel saamgewerk het, baie geleer en ek gaan my bes probeer om voort te bou op wat sy my nagelaat het,” het sy gesê.


